Die Weg

 

Deur die krag van die Here

Om die woord van die Here te moet aankondig, beteken vir my net vernedering en bespotting heeldag deur. En wanneer ek dink ek sal my aan Hom nie steur nie en nie meer in sy Naam praat nie, dan word dit in my soos 'n vuur wat brand en waarvan ek nie kan loskom nie. Ek is moeg van weerstand bied daarteen, ek kan nie meer nie. - Jeremia 20:8-9.

Daar kom tye wanneer dit vir ons voel asof ons geen krag het om vir die Here te getuig en die plig te doen wat Hy op ons lê nie. Selfs die profete het dit ondervind. Die las om die oordeel oor die volk uit te spreek het swaar op hulle gedruk. Hulle het soms teruggedeins toe God hulle geroep het om sy Woord te spreek. Ons dink veral aan Jeremia. Hy het meer as eenkeer vir die Here gesê dat hy onbekwaam vir sy roeping is. Hy het dit moeilik gevind om na die volk te gaan en God se Woord te verkondig, terwyl hy vooraf geweet het dat die mense nie na hom sou luister nie, meer nog, dat hulle hom sou bespot en kwaad sou wou aandoen. Só swaar het dit op hom gedruk dat ons aan die einde van hierdie hoofstuk lees dat hy gewens het dat hy nooit gebore was nie. Maar Jeremia was tóg gehoorsaam. Hy kon nie stilbly nie, hy kon nie teenstand bied teen God se oproep nie. En nadat hy opgestaan en sy plig gedoen het, was dit vir hom duidelik dat hy krag daarvoor ontvang het. Dit was omdat God getriomfeer het dat hy kon uitroep: “HERE, U het my oorgehaal, en ek het my laat oorhaal; U was te sterk vir my en het oorwin” (Jer 20:7; 53-vertaling)

Ons loop die gevaar om ontrou aan God te word. Dit gebeur dikwels dat ons swyg wanneer ons vir God moet getuig; en dan, in plaas van teen die stroom op te swem, dryf ons met die stroom af. Maar ons moet getrou wees, wat dit ons ook al mag kos. Laat ons Jeremia tot voorbeeld neem. En nadat ons ons plig gedoen het, sal ons die wonderlike vreugde van voldoening smaak en weet dat ons dit deur die krag van God gedoen het; dat Hy ons die krag verleen het om ons onwilligheid en swakheid te bowe te kom. Dan kan ons saam met Jeremia sê: “Here, U was te sterk vir my, U het oorwin”.

Uit: Die Stille Uur deur JD Kestell

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css