Die Weg

 

Om die werking van die Gees teen te staan

Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. - Handelinge 4:32.

Petrus sê toe vir hom: “Ananias, hoekom het jy jou deur die Satan laat omhaal om vir die Heilige Gees te lieg en van die verkoopprys van die grond vir jouself agter te hou? Die grond was mos joune, en toe dit verkoop is, kon jy met die geld gemaak het wat jy wou. Wat het jou besiel om dit te doen? Jy het nie vir mense gelieg nie maar vir God." - Handelinge 5:3-4.

Hoe het die Heilige Gees mense verander! Ons sien dit by die apostels. Hulle het met hart en siel, en met vreugde die evangelie verkondig. Hulle het altyd teruggekeer na die kern van ons geloof: die opstanding van die Here Jesus. Ons sien dit ook by die eerste gemeente se omgang met hul besittings. Daar is 'n waarheid uit die antieke tyd wat lui: “die mens se mees sensitiewe liggaamsdeel is sy beursie.” Dit beteken: ons laat ons nie graag voorsê wanneer dit by geld kom nie. Maar wanneer die Heilige Gees 'n mens se hart vul, verander dit die mens se houding teenoor geld en aardse goed. Dié wat by die gemeenskap van gelowiges aangesluit het se geld en goed is nie van hulle weggeneem nie. Nee, maar hulle het tot die besef gekom dat hulle hul geld en eiendom van God ontvang het, en daarmee het hulle die behoeftiges onder die gelowiges gehelp. Barnabas, die Leviet van Siprus, het onder andere sy stuk grond verkoop en die opbrengs aan die apostels gegee om die noodlydendes te help.

Alles het so mooi begin: die mans en vroue van die eerste gemeente het in perfekte harmonie saamgewerk. Hulle is met die Gees van God vervul en hulle was begeesterd. Maar skielik het 'n skaduwee oor hierdie verhaal van lig geval. Ananias en sy vrou Saffira was die oorsaak daarvan. Die leuen het hulle meester geword. Petrus het dit “die werk van Satan” genoem. Die eendrag en harmonie was verbreek. Dat hulle iets vir hulself wou hou was nie die probleem nie, maar wel dát hulle dit verswyg het, dát hulle gelieg het: “Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God” (v 4). Beide van hulle moes sterf omdat hulle geestelik reeds dood was. Hul rykdom op sigself was nie sleg nie, hulle kon die grond behou het; hulle kon 'n deel van die geld gehou het. Die probleem was die leuen. Die leuen bederf die mens se vryheid en laat hom van binne verrot. So het Luther die sonde beskryf. Wees daarom bedag daarop dat jy jouself nie vernietig nie, maar hou jou hart voortdurend op God gerig.

Uit: Neukirchener Kalender 2013
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css