Die Weg

 

Vryheid is ons erfdeel

Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God - Hebreërs 6:1.

Die verandering wat Pinkster by die apostels aangebring het, is indrukwekkend. Na die Paasgebeure het daar vrees en 'n gevoel van verlorenheid oor hulle gekom. Uit vrees vir die Jode het hulle agter geslote deure vergader. Later het Petrus wat sy Meester so ywerig gevolg het, gesê: “Ek gaan visvang” (Joh 21:3) en van die ander apostels het gesê: “Ons gaan ook saam met jou.” Maar kyk hoe het alles by die Pinksterfees verander! (Hand 2).

Niemand kan 'n oorvloedige lewe in Christus leef as hulle vasgevang is in die greep van vrees, of as hulle nie glo dat die Here vir hulle 'n weg, 'n lewensdoel beskik nie.

Hierdie ervaring van die apostels tussen Paasfees en Pinkster is soortgelyk aan die ervaring van die Israeliete in die woestyn tussen die tyd wat hulle Egipte verlaat en in Kanaan aangekom het. Dit is die tyd na die verlossing waarin 'n mens vrykom van die mag van die slawerny van die sonde, maar tog nog nie die volle krag van die Heilige Gees ontvang het nie.

'n Mens moet die bostaande sien in die konteks van Paulus se beskrywing van die natuurlike, die vleeslike en die geestelike mens. Die natuurlike mens (1 Kor 2:14) is dié mens wat glad nie by Golgota uitgekom het nie, wat dus nie die verlossing van Jesus Christus aangeneem en deel het daaraan nie. Die vleeslike mens (Rom 8:5-7) is dié wat wel by die verlossing van Jesus Christus uitgekom het, maar nie deel het aan die volle werking van die Heilige Gees nie. Hebreërs 5:12 praat van hulle as “baba's in geloof”, waar daar baie min of geen spirituele groei is nie. Hulle is soos Lasarus wat uit die dood opgewek is, maar waarvan die hande en voete nog met doodsdoeke vasgebind is (Joh 11:44), totdat hulle ten volle ook dáárvan verlos is.

Die geestelike mens (Rom 8:9-10) is hulle wat by Pinkster verby beweeg het, wat nou deel het aan die Koninkryk van God, wat leef uit die geregtigheid, vrede en vreugde van die Heilige Gees.

Is dit nie 'n jammerlike uitbeelding van die ervaring wat baie Christene het nie? Mense wat in wêreldse slawerny verkeer; wat voortleef in die sonde, en vasgevang is deur twyfel en vrees! Tog is vryheid ons erfenis. Ons is geroep tot die vryheid van die kinders van God (Rom 8:21). Dit sal vir ons 'n wonderlike dag wees wanneer ons by die punt kom waar ons erken dat ons nog nie dáár is wat God se doel met ons is nie. Maar dit sal 'n nog wonderliker dag wees wanneer ons werklik glo en ons ons doelbewus oorgee en onderwerp aan die werking van die Heilige Gees, sodat ons kan word wat God se doel met ons is en ten volle uit sy krag kan leef. Nou en tot in ewigheid. Dit is die krag van Pinkster.

"So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof." (Ef 4:13-15).

W Graham Scroggie in Daily Thoughts from Keswick.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css