Die Weg

 

As ons nie weet wat om te doen nie

Ons God, sal U hulle nie straf nie, want ons het nie die krag om hierdie groot menigte wat teen ons optrek, te weerstaan nie. Ons weet nie wat om te doen nie. Ons oë is op U gerig. - 2 Kronieke 20:12.

Só dikwels staan 'n mens op die kruispaaie van die lewe waar jy baie belangrike besluite moet neem, maar nie weet watter kant toe nie. Die oormag van probleme en onsekerhede is so groot dat jy ook soos Josafat sê jy het nie die krag daarvoor nie. Dan kan jy net Boontoe kyk.

Josafat was bang en het by die Here hulp gesoek” (v 3). Vrees is 'n menslike reaksie op omstandighede, maar dit verander nie jou omstandighede nie - dit maak net van jou 'n gespanne en dikwels depressiewe mens, en tap jou energie. Vrees beroof jou van jou lewensvreugde.

Josafat het 'n vasdag uitgeroep, en: “Die hele Juda en hulle afhanklikes, vrouens en kinders, het daar voor die Here gestaan” (v 13). Wat het toe gebeur? Die Gees van die Here sê toe vir hulle: “Moenie vrees nie, moenie bang wees vir hierdie groot menigte nie, want hierdie oorlog is nie 'n saak vir julle nie, maar vir God” (v 15). Die volgende dag het die sangers voor die gewapende manne plek ingeneem, en “Juis toe, toe die sangers met die lofprysing en gebed begin, het die Here ... “ 'n wonderwerk gedoen en uitkoms gebring (v 22). Daarna het hulle die plek Lofdal genoem, omdat hulle die Here daar geloof het (v 26).

As jy nie weet wat om te doen nie, moet net nie vrees nie, want dit bring jou nêrens nie. Moenie vrees nie, want God sál vir jou 'n pad maak. Daarom is dit beter om met lofprysing en gebed te reageer, en volkome te rus in die voorsienigheid en genade van God.

Deur lofprysing en gebed het tronkdeure al oopgeswaai! (vgl Hand 16:25).

Gebed: Here, ek bely dat ek dikwels paniekerig en vreesagtig raak wanneer dinge vir my te veel word en ek nie weet wat om te doen nie. Ek wil leer om dinge wat vir my te groot is, aan U oor te gee, en U te loof en te aanbid. Amen.

Uit: God sal 'n Pad maak deur Johan Crafford (Met die vriendelike toestemming van Aktuapers)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css