Die Weg

 

Uitnodiging na die Paasmaaltyd

(Lees saam met die vorige)

En Hy antwoord: Gaan na die stad na ‘n sekere iemand en sê vir hom: Die Meester laat weet: My tyd is naby. By jou sal Ek die pasga hou met my dissipels. - Matteus 26:18.

Christus laat sy Paasmaal in die stad voorberei. Die stad is Jerusalem.

Dit is niks besonders dat God se Paaslam juis Jerusalem toe gaan om daar geslag te word nie. Was Jerusalem nie immers die stad waar die profete van die HERE vermoor is nie? Ons lees op vele plekke in die Bybel daarvan. En Jesus Christus sê dit ook as Hy van Homself profeteer: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is” (Mat 23:37). 

En tog is dit in hierdie stad dat Jesus Christus die gemeenskaplike maaltyd met sy dissipels gaan hou: die stad waarvan Hy self sê: “hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!” (Mat 23:37); die stad waar die inwoners weldra sou saamdrom om al jouende hul Messias se kruisdood te eis met hul “kruisig Hom, kruisig Hom!” Daar is egter ook die diepere betekenis van hierdie Pasga. Want by hierdie Pasga sou Hy homself laat offer vir alle mense, ook sy moordenaars. Dit is die uitnodiging wat Hy met sy boodskappers in die strate uitstuur: “Kom nou, alles is gereed. By jou sal Ek met my dissipels die Pasga hou.” (vgl Mat 22: 4).

Hierdie boodskappers stap ook deur ons stad. Die Paaslam kom na elkeen en wil dat elkeen deel sal hê aan sy liggaam en sy bloed. Niemand is van hierdie uitnodiging uitgesluit nie. As die hoof van die land 'n feesmaal reël, is dit vir uitgesoekte gaste, maar by die maaltyd van die Lam is dit nie die geval nie. Die maaltyd van Christus se soenoffer word aan alle mense aangebied: “Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word."  (Luk 14:23).

Ek weet nie waarom jy nie by die Here se Paasfees wil aansit nie. Maar jy kan in ieder geval nie sê dat jy nie uitgenooi is nie. Christus nooi jou na sy Avondmaal (Nagmaal) wat Hy met sy dissipels hou, en jy kan vandag nog 'n dissipel word en kom aansit.

Die beker van danksegging, waarvoor ons God dank, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons, al is ons baie, saam een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood.” (1 Kor 10:16-17).

Uit: De Stem achter U deur ds Gabe van Duinen (effens aangepas ter wille van duidelikheid)

 

*******

Die opknapping van ons nuwe tuiste is byna voltooi en ons is tans besig om te verhuis. Daarom sal daar nie elke dag 'n boodskap uitgestuur kan word nie. Ek sal probeer vir ten minste twee keer hierdie week en dan weer een teen die einde van volgende week. Na die Paasnaweek behoort alles weer normaal te funksioneer.

Lukas
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css