Die Weg

 

'n Nuwe Trek

Moses my dienaar is dood. Maak jy nou gereed en trek deur die Jordaanrivier – Josua 1:2.

Die een geslag kom, die ander gaan. 'n Mens se kinders wil dikwels nie glo jy word oud nie (of hulle maak of hulle dit nie wil glo nie!), maar jy sien dit duidelik in die spieël. Dis nou hulle tyd en ná hulle hul kinders se tyd in die kom en gaan van die eeue en millennia. Moses se tyd het ook verbygegaan. Dit sou vir Israel nooit weer dieselfde wees nie. Maar Josua die seun van Nun se tyd het gekom. Hy moet nou die volk Kanaan inlei.

Voor Josua lê die Jordaan wat die volk moes deur, soos die graf voor Jesus (wie se Naam in Hebreeus ook Josua is) gelê het wat Hy moes deur. [Die Jordaanrivier word soms in die Nuwe Testamentiese bedeling in verband gebring met die graf waardeur elke kind van God moet gaan]. Josua gaan met 'n nuwe trek oor die groot rivier waar die skeiding was tussen vreemdeling- en beloofde gebied. Jesus gaan met 'n nuwe, verheerlikte lewe voor sy volk uit en heilig alles waaraan Hy raak as God se gebied. Josua gaan vooruit as 'n vegter. Jesus gaan vooruit as 'n Koning. Die ou bedeling en die nuwe bedeling ... Hoe intiem is hulle nie ineengevleg nie en hoe vloei die nuwe nie uit die oue nie!

Van Moses bly die wonderlike herinnering oor dat hy God gedien het soos geen ander mens voor hom en ná hom nie. Maar God se Plan bly verder ontwikkel, soos dit sal bly ontwikkel totdat die basuine eenmaal 'n finale einde aankondig - en weer 'n heel nuwe begin. Uit die ashoop van gister se val en opstaan groei dikwels die blom van vandag se belofte en môre se oorwinning.

Josua het geweet die maande en jare wat voor hom lê, gaan nie maklik wees nie. Hy het die wispelturige volk se onbestendigheid al deeglik meegemaak. Maar hy het in Moses 'n leermeester gehad soos net Moses was. En ons het Christus as leermeester, Christus wat oud in nuut verander; Christus wat self nooit verander nie, maar altyd getrou waak oor sy mense. Hy sal vandag weer by jou wees om jou te lei.

Uit: “In die Teenwoordigheid van God” deur Izak de Villiers - Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM). - (Verduidelikende kommentaar in hakies bygevoeg)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css