Die Weg

 

As die herfstyd aanbreek

Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd – Prediker 3:1.

Dis reg. Elke ding het sy tyd. Die natuur het sy seisoene van lente, somer, herfs en winter. Maar hierdie seisoene sien ons ook in die lewe van die mens. Laat ons 'n bietjie hierna kyk. Let wel dat die jare wat hieronder gegee word maar so ongeveer die gemiddelde is. Vir sommige mense begin die somertyd vroeër en vir ander eindig dit weer later.

Daar is die lentetyd, van geboorte tot so 21 jaar. Die tyd van grootword wanneer 'n mens tot volwassenheid ontwikkel. Daarna kom die tyd waarin jy onafhanklik van jou ouers begin funksioneer. Dit is die somertyd en die tyd van groei. Jy begin om vir jouself doelwitte in die lewe te stel. Jy het dalk drome wat jy wil verwesenlik. Jy vind jou metgesel en reisgenoot vir die weg van die lewe. Saam sit julle 'n huis op en bou aan julle toekoms. Dit is die tyd vir kinders grootmaak, werk en bymekaarmaak. Hoogsomer is so by 50 jaar wanneer die kroos die huis verlaat, en die nasomer eindig hier by 70 jaar. Dan kom die herfstyd. Dit is die tyd wanneer die takke hul buigsaamheid verloor; die tyd waartydens jy nie meer kan volhou met wat jy altyd gedoen het nie; die tyd wanneer jy noodwendig moet begin om sekere dinge aan ander oor te laat.

Herfstyd is nie noodwendig depressietyd nie. Hoe mooi lyk die natuur in die herfs, wanneer die blare goudbruin grond toe val. Dit is ook die tyd wanneer die kosmosse met hulle pragtige blomme sigbaar word. Die heerlike koel namiddae en aande met hul kenmerkende en verfrissende koel luggie. Ook in die menslike lewe kan herfstyd nog vreugde-tyd wees. Die tyd wanneer jy jou egter ook moet voorberei vir die wintertyd wat aan die kom is, die tyd bokant 80 jaar. Hoe beter jy jou daarvoor voorberei, hoe goed jy jou stapel hout vir die kaggelvuur opstapel, hoe beter sal jy jouself in die wintertyd kan warm hou. Ja, en dit is juis die vuur van die Gees van God wat die kaggel binne jou laat brand. Want wintertyd is ook die tyd van herinneringe, die tyd van besinning, die tyd wat jy jou moet gereedmaak vir 'n nuwe lewe wat aan die kom is: die lentetyd van die ewigheid.

**

Vir ons het die herfstyd nou ook aangebreek. Dit is die tyd om weg te doen met alles wat nie meer regtig saak maak nie. Ons het ons huis verkoop en is besig om 'n kleiner plekkie in 'n aftree-oord vir ons reg te maak. Aan die huis kan 'n mens sien hoe die vorige bewoners se vlees en gees agteruitgegaan het. Die huis moet in sy geheel vernuwe word. As die Here wil sal dit ons tuiste word tot ná die winter, tot die dag weer breek om 'n nuwe lente aan te kondig; wanneer ons self ook weer hernuwe sal word. Daarom het die plek, in die figuurlike sin, so 'n gepaste naam: “Sunrise View”.

Hierdie herfstyd is die tyd waarin ons ook nog sal kan geniet van dít wat die Here vir ons gee en wat ons hopelik ook met ander sal kan deel. Dit is die tyd van besinning, die tyd om van diens te kan wees en die weg aan te wys, vir die jonger geslag wat ook in ons voetspore sal volg.

Ons beleef die koelte en die rus van die najaar, maar steeds met die krag van die geloof, wat onderhou word deur die vuur van die Gees wat in ons woon en werk. Om dan, wanneer die wintertyd uiteindelik aanbreek, nog genoeg warmte te hê vir onsself en almal rondom ons.

As julle dus vir die volgende maand of twee minder van ons hoor, is dit maar net omdat ons besig is om van staanplek te verander. Daarna sal ons weer voortgaan, net vanuit 'n ander adres, waarvan ons aanstaande buurvrou sê: “Kyk boetie, hier bly jy totdat hulle jou in die grond toespit”.

Lukas en Winy du Preez (dw)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css