Die Weg

 

God is altyd by ons

U het my gebed verhoor – Psalm 22:22 .

In Psalm 22 getuig Dawid, uit sy eie ervaring, dat God lofwaardig is. Die HERE regeer oor die hele wêreld. Hy is nooit ver weg nie, al voel dit vir jou soms so. As jy op Hom bly vertrou, red Hy jou uit jou totale verlatenheid. Dawid was blykbaar dodelik siek en daarby ook nog ernstig vervolg. Sy allergrootste smart is die onbegryplike ervaring dat God hom verlaat het en geen antwoord gee op sy onophoudelike geroep nie. Sy menswaardigheid is weg, hy is 'n wurm. Hy word op allerlei wyse bespot oor sy vertroue in God, hý wat van sy geboorte af met teerheid deur God versorg is. Toe hy gebore is, het God as 't ware met sy eie hande die bevalling waargeneem en hom daarna aan sy moeder se bors laat rus.

Die HERE moet tog nie so ver weg bly nie, pleit hy. Sy vyande vervolg hom soos wreedaardige beeste uit Basan, honde, wildebeeste en verskeurende leeus. Sy liggaam is besig om ineen te stort. God laat hom lê asof Hy dood is. In hierdie verskriklike toestand het die mense hom boonop soos 'n bende misdadigers omsingel; hom gevang en vasgebind. Hulle kyk met leedvermaak na sy uitgeteerde liggaam. Hulle het hom nakend uitgetrek en al sy besittings gevat. God alleen kan hom red. Hy moet tog gou kom help!

En, waarlik, dit gebeur! Daarom prys Dawid vir God in die samekomste, en roep ook almal op om dieselfde te doen. Deur hom uit te red het God bewys dat Hy uitkoms gee aan die hulpelose wat op Hom alleen vertrou. Die “armes”, dié wat hul hulp by die HERE soek, versorg Hy by die offermaaltyd en hulle prys Hom. Van Hom ontvang hulle volheid en lewensgeluk. Daarom word God ook wêreldwyd, deur alle volke, as regeerder geprys. Al die rykes sal Hom as Koning erken, ja, alle mense, sterflik en verganklik, kniel voor Hom neer. Ook die nageslagte sal Hom dien en aan die volgende geslagte vertel dat dit Hy is wat die reddingsdade gedoen het.

Wat Dawid deurgemaak het, vertel iets van die groot lyding en verlatenheid van die mens. Die mensdom worstel met die probleem dat dit lyk of God afsydig staan teenoor die ontsettende nood van die wêreld, Waar was God met die verskriklike lyding van mans, vrouens en kinders in die wêreldoorloë? Waar was God met die onmenslike wreedhede in konsentrasiekampe? Waar is God met die ongeneeslike siekes in hospitale? Waar is God in die verskriklike lyding van mense met liggaamlike en persoonlike afwykings? Baie mense sê: God is dood! Hy weet nie wat aangaan nie, Hy doen niks daaraan nie. Maar wat my betref, ek bly op God vertrou al voel dit soms vir my of Hy afwesig is.

Daar word baiekeer in die Nuwe Testament uit hierdie Psalm aangehaal. In Jesus kom die verlatenheid van die gelowige en die misterie daarvan, ten volle na vore. Hy, die Seun van God, het self ook uitgeroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Hy was inderdaad van God verlaat, nie net skynbaar nie. Hy was van God verlaat sodat ek nooit van God verlaat sal word nie! Dit is die sonde wat 'n mens van God verlate maak. Maar Jesus het vir my sondes gely. Wat my van God skei, het Hy weggeneem. Hy het gesterf maar ook weer uit die dood opgestaan. Deur die krag van sy opstanding ruk hy my los uit die greep van die dood en van die skeiding met God. Ek sal leef ondanks my dood. God is by my ondanks die skynbare verlatenheid wat daar soms in my lewe is.

Totdat Christus weer kom, leef ek wel in 'n gebroke wêreld vol lyding en vol vyandskap. Daar is tye dat ook ek wil uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek roep om hulp? My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie. U is tog die Heilige, u gemeente roem U omdat u onveranderlik is in u verbondstrou. Van ouds af het die gelowiges op U vertrou en het U hulle gered. Maar my menswaardigheid is weg deur siekte en die spot van mense. Hulle het leedvermaak oor my vertroue in U. Hulle verag my, ek wat van kleins af aan U behoort en in teerheid deur U versorg is. Moet tog nie so ver van my af weg bly nou dat ek in die nood is en daar niemand is wat help nie.” Al wil ek soms so uitroep, bly God tog die bron van my krag. Hy hoor my gebed en Hy red my kosbare lewe. God leef, en ek vind my lewe in Hom. Ek is soos 'n suigeling wat sy moeder soek en aan haar vashou. Haar bestaan gee vir hom sekerheid en rus. So is God in my lewe. Ek hou aan Hom vas al lyk dit of Hy ver weg is. Deur op Hom te bly vertrou, kom daar vir my lig in my skynbare verlatenheid.

God gee uitkoms aan die hulpelose, dié wat op Hom alleen vertrou. Ek leef nie uit myself nie, maar ek leef deur die Gees van God. Hy maak my daarvan bewus dat daar geen lewe buite God is nie. Hy laat my besef dat ek buite Jesus Christus maar net 'n verlore sondaar sou wees. Die lewewekkende Gees het 'n verloste mens in my gebore laat word, 'n mens wat uit Jesus Christus leef, uit die genade van God. En dan weet ek, ek word nooit deur God verlaat nie! Alle gelowiges moet Hom prys en saam met my vir Hom 'n loflied sing!

Prof JL Helberg: Loof die Here – Die Psalms in Ou- en Nuwe-Testamentiese lig (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css