Die Weg

 

Waarom paniekerig wees?

Gee U nie om dat ons vergaan nie? - Markus 4:38.

Daar is verskillende maniere hoe ’n storm skielik oor ons koppe kan losbars. Dit kan byvoorbeeld met geweld, misdaad, onmin of ernstige siekte gebeur. Wanneer so iets met ons gebeur, raak ons maklik paniekerig.

Die dissipels was besig om met ’n skuit oor die see van Galilea te vaar. Toe ’n vreeslike storm losbars, was selfs hierdie ervare vissermanne doodsbenoud en paniekbevange. Jesus het egter in die skuit gelê en slaap. Dit is toe dat die dissipels Hom verwyt het: “Gee U dan nie om dat ons vergaan nie?

Wanneer storms ons lewens bedreig, broei ’n soortgelyke verwyt soms ook in ons gemoed. Ons worstel met die vraag waarom God al die lelike dinge in ons gemeenskap of in ons persoonlik lewe toelaat.

* Sien Hy dan nie wat aangaan nie?
* Gee Hy dan nie om dat ons vergaan nie?
* Waarom bly Hy slaap?

Nadat die dissipels vir Jesus wakker gemaak het, het Hy die storm stilgemaak. Daarna het Hy die dissipels egter skerp aangespreek: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?

Dieselfde teregwysing kom ons ook toe wanneer ons te midde van stormbedreigings paniekerig raak. Het ons dan vergeet dat die Here by ons is? Jesus Christus het onder ons kom woon. Die verskriklikste storm het oor Hom losgebars, sodat ons die ewige rus en kalmte mag vind. Terwyl ons op aard en nog aan allerhande storms blootgestel is, het Hy sy Gees gestuur om vir ewig by ons te bly. Hoe kan ons ooit vergeet dat Hy beloof het om ons nooit te begewe of te verlaat nie? Hy het ons immers verseker dat Hy by ons sal wees al die dae tot die voleinding van die wêreld.

Selfs die angswekkendste storms is nie teen God se almag bestand nie. En God is by ons. Waarom sal ons dan paniekerig wees?

Prof. Francois Viljoen: U is 'n God wat my sien (PTP Boeke).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css