Die Weg

 

Die geval Agan (8) – Met alles wat hy het .....

(lees saam met die vorige boodskappe)

Daarop het Josua en die hele Israel met hom saam Agan, die seun van Serag, geneem met die silwer en die mantel en die goudstaaf en sy seuns en sy dogters en sy beeste en sy esels en sy kleinvee en sy tent en alles wat aan hom behoort het, en hulle het hul na die dal Agor gebring. - Josua 7:24 (53-vertaling).

Agan se belydenis het hom nie van die oordeel gered nie. En Agan gaan die oordeel in  ....   “met alles wat aan hom behoort het.” Ons moet kennis daarvan neem. Agan staan met sy hele lewe, met alles waarvoor hy gelewe en wat hy vergader het, voor die aangesig van die Here. Sy hele inventaris: sy beeste, sy esels, sy kleinvee, sy tent, sy seuns en sy dogters. Hoe baie het hy nie gehad nie! Seker nie minder as enige ander Israeliet nie. Maar hy was nie tevrede daarmee nie! Hy wou meer hê. En dit wat hy gevat het, lê ook daarby. Kyk en sien: terwille van jou begeertes (die silwer, die goud, die mantel) gaan jy nou alles verloor. As 'n mens skade aan jou siel ly, ly jy ook skade aan jou goed. Dan verloor jy jou siel en die wêreld daarmee saam. As ons ondergaan, gaan al ons besittings en ons diere saam daarmee onder. Ja, Agan gaan die oordeel in “met alles wat aan hom behoort het”. Ook met sy seuns en sy dogters.

Dit is iets verskrikliks! Daar gaan die vader met sy seuns en dogters. Dit is één bloed, één lewe – in mekaar vasgegroei. Ouers en kinders is aan mekaar verbonde. Dit maak die sonde van ouers iets ingrypends. Hulle sondig altyd met 'n hele gevolg agter hulle aan. Agan beland in die oordeel met sy seuns en dogters en alles wat aan hom behoort het.

Dan volg die laaste bedryf in hierdie verskriklike drama: “en hulle het hul na die dal Agor gebring. En Josua het gesê: Hoe het jy ons in die ongeluk gestort! Die HERE sal jou vandag in die ongeluk stort! Daarop het die hele Israel hom gestenig, en hulle het hulle met vuur verbrand en klippe op hulle gegooi.” (Jos 7:25).

Vir 'n oomblik staan alles stil. Die doodse, soms angswekkende kort stilte voordat die donderende slag uit die wolke die lug deurklief. Daar staan Josua. Watter verskriklike dag vir hom! Hier is God die Vader die regter, die regter oor sy eie kinders. Daar staan die angsbevange groepie teenoor Josua: Agan met sy seuns en dogters. Dalk jong mense wie se lewens nog voor hul gelê het. Hulle wou lewe: trou en kinders kry. Lewe! Lewe! Wat wou hulle anders? Dan lees Josua God se vonnis voor. Loodswaar val die dodelike woorde op hulle neer: “Hoe het jy ons in die ongeluk gestort! Die HERE sal jou vandag in die ongeluk stort!”  [In Duits en Nederlands word in plaas van die woord “ongeluk”, 'n woord soortgelyk aan “droefheid” gebruik].

Dan breek die oordeel los. God se oordeel. Nee, dit is nie mense wat die oordeel voltrek nie. Dis God self. God gaan droefheid oor hierdie mense bring. En dan word die oordeel oor Agan nie net deur een mens of 'n klein kommando voltrek nie. Agan se eie familie, sy stam, sy volk moet deel hê daaraan: “Daarop het die hele Israel hom gestenig, en hulle het hulle met vuur verbrand en klippe op hulle gegooi.” (Jos 7:25).

Ons moet daaraan dink dat die hele Israel hierby betrokke was. Hulle was nie net toeskouers nie! Dit is nie net Agan wat hier in die gerig gestaan het nie, maar die hele Israel. Dit was ook nie 'n geval waar die mense hulle wraaklus kon laat botvier nie. Dit was iets verskrikliks vir Israel. Hier druk God self die operasiemes in die hande van Israel om die gewas uit hul binneste te verwyder. Hier hamer God die heiligheid van sy gebod, die verskriklikheid van die sonde, ja die eie skuld en doemwaardigheid by sy volk in. Lê hiernaas die woorde van Christus: “Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi.” (Joh 8:7). Wie was hier sonder sonde? En as God dan tog beveel: gooi!, gooi!, dan gooi jy jouself. Hoe verskriklik moet dit wees as 'n ander mens moet sterf vir sonde waaraan jyself skuld het. Het Israel ooit só die felle insuiging van God se gerig gesien; ooit só hulle eie sware skuld gevoel as op dié dag waarop hulleself die instrument moes wees om die sonde te straf met die dood?

Daarom is die naam “Agor” so beskrywend. Voortaan sal die dié plek “die dal van Agor” genoem word, wat “droefheid” of “die dood oor ons gebring” beteken. So het die volk die aand na hulle tente teruggekeer. Tot in hul siel geslaan en gestenig. Ja groot droefheid. En die volk ween oor Agan en hul eie sondes.

[Maar nogtans kan die dal van Agor ook 'n deur van hoop word! (Hosea 2:14 en Jesaja 65:10). Later meer hieroor].

Ds. Gabe van Duinen: Zie hier is uw God (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css