Die Weg

 

Die geval Agan (2) – En Josua het gesê....

(lees saam met die vorige boodskap)

“En Josua het gesê: Ag, Here HERE....” - Josua 7:7 (53-vertaling).

Die liggaam van Israel se volksgemeenskap was siek. Inderdaad, as die hart (dit is die moreel, die innerlike krag) van 'n volk “versmelt en soos water word” (vers 5), is dit 'n baie duidelike aanduiding dat die volk siek is en by die dokter moet uitkom.

Dit was belangrik dat Josua en sy raadsmanne dit moes insien en erken: dat wat by Ai gebeur het nie ligtelik opgeneem moes word nie. Hulle kon sê: “Ag kom nou, iedereen het die een of ander tyd maar 'n teenslaggie in die lewe. Wat maak 36 man meer of minder nou eintlik!”  Maar vir Josua was dit rooi ligte wat geflikker het; dit gaan nie goed nie; dinge is nie reg nie. En ook ons ken daardie rooi ligte van die gewete. Ook óns het al die waarskuwing gehad. Ook met óns gaan dit nie goed nie. Maar ..... ons lewe maar net voort: “Toe nou, moenie so swartgallig wees nie! Nie so somber nie!” Ja, dit is die ergste wat die mens kan oorkom as God moet sê: “Ek het hulle geslaan, maar hulle het geen pyn gevoel nie” (Jer 5:3). Maar Josua en sy raadsmanne het wél die pyn gevoel. Die klap by Ai het seergemaak. Hulle het dit ernstig opgeneem. Ons lees hier: “Toe het Josua sy klere geskeur en met sy aangesig op die grond geval voor die ark van die HERE, tot die aand toe, hy en die oudstes van Israel, en hulle het stof op hul hoofde gegooi.” (vers 6).

Dit is nie net 'n jammerlike gekerm van Josua nie. Josua het geweet waar hy sy hulp moes gaan soek. Hy loop nie met 'n kwaadaardigheid in sy binneste rond nie. Hy loop vra nie raad by allerhande kwaksalwers nie. Josua gaan na die enigste Dokter wat kan help. Josua gaan met sy nood na die Here!

Josua het gesê...” En wat Josua sê is nie 'n goed gestileerde, fraai deurdagte gebed van mooi woorde nie. Hy wil niemand beïndruk nie, en vir God kan 'n mens nie met mooi klinkende woorde beïndruk nie! Want hy weet nie regtig wat om te sê nie. Die Here se weg is vir hom duister en raaiselagtig. Hoor ons in sy gebed ook 'n verwyt teenoor God?  Maar dit is 'n gebed uit die hart. Ons sien in hierdie gebed 'n gebroke hart en verslae gees. Dit is nie die gebed van 'n Fariseër nie. Dit is die gebed van 'n tollenaar. Hierdie gebed is eg. 'n Gebroke hart stamel en hakkel in gebed, maar dit is opreg en God sal dit nie afwys nie. Dit is 'n sug na God. En 'n mens hoor die sug deur al die verwarde en verkeerde dinge wat gesê word. Wat ook al gesê word, dit is die ondertoon van die gebed wat tel. Want dit sê: my hart roep uit tot God wat leef, en aan my siel die lewe gee.

Dit is opmerklik om te besef hóé Josua na God gaan in sy nood. Dit handel om die eer en die Naam van God: “Ag Here HERE ....... wat sal U dan vir u grote Naam doen? ” Josua het in homself en in Israel niks gehad waaraan hy kon vashou nie. God se Naam is die laaste strooihalm. En hierdie strooihalm breek nie. God het sy Naam met Israel se lot verweef. En so word “Here HERE” die verbondsnaam, die pleitanker waaraan Josua Israel in die onstuimige wêreld vasbind.

Hoe heerlik is dit nie as ons dit ook sou doen nie! As ons ook so aan God se Naam gaan vasgryp: vir die groot wêreld, vir ons kerke, vir ons skole, vir die politieke en sosiale omstandighede, vir ons huwelik en vir ons gesin. Ons het ook ons nederlaag by Ai. Op alle gebiede loop dinge verkeerd. Watter groot seën as ons volk ook op die grond gaan lê, langs Josua en sy oudstes – as die manne en vroue wat so versekerd staan in hul eie krag tot die punt kom waar hulle in gebrokenheid niks anders oorhou as God se grote Naam nie – en ootmoedig moet toegee: “Ag Here, HERE! Die saak waarvoor ons nou staan is ook U saak. Help ons, o God van ons heil, om die eer van u Naam..... ”

(word vervolg)

Ds. Gabe van Duinen: Zie hier is uw God (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css