Die Weg

 

God heers as ewige Here

Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie. - Daniël 7:13-14 (53-vertaling).

In Daniël 7 en 8 word daar weer terug beweeg na die regeringstyd van koning Belsasar van Daniël 5. Dit is opvallend dat Daniël juis in die tyd van die goddelose koning Belsasar hierdie drome en visioene gehad het. Op die kruin van goddeloosheid en uittarting van die lewende God, kom die Here om die gelowiges in ballingskap te versterk en te bemoedig.

Dinge sál uitmekaar val, koninkryke sál kom en gaan, swaar tye sál daar wees, maar die Here is die Een wat die finale en laaste sê het in die wêreldgeskiedenis.

Die koninkryk van God sal vir ewig bly bestaan. Dis jou anker en troos in hierdie gebroke wêreld waarin ons nou is. Mag jy moed hou en volhard in die geloof tot met die wederkoms van ons Here Jesus Christus.

Ds Paul van den Berg

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css