Die Weg

 

Gebed om lig

Verlig my, Here Jesus, met die glans van U innerlike lig, en verdryf alle donkerheid uit die hoeke van my hart. Hou my dwalende gedagtes in toom en verdryf al die aanvegtinge wat soveel krag uit my put. Stry kragtig vir my en gee my siel aan die wilde diere (Ps 74:19) - dit is die verleidende begeertes - nie oor nie, sodat U krag my vrede sal laat terugkeer (Ps 122:7). Dan sal ek U lof besing uit 'n rein hart en suiwere gewete.

Stuur u lig en u waarheid (Ps 43:3) dat dit mag skyn oor die aarde, want ekself is daardie woeste en leë aarde (Gen 1:2). Dat dié my lei. Stort U genade uit van bo; deurweek my hart met U hemelse dou, sodat ek die beste vrugte mag dra. Rig my siel op wat neergedruk word deur die las van die sonde, en wek my begeerte op na dít wat in die hemel is, sodat ek myself sal vrymaak van alle aardse dinge. Ruk my weg van al die kortstondige genietinge wat net tydelike vertroosting bring, want niks wat geskep is kan my verlange ten volle stil of bevredig nie. Bind my met die onverbreekbare band van die liefde, want sonder U het die lewe geen sin nie. Amen.

Uit: De Imitatione Christi (Die navolging van Christus) – Thomas à Kempis
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css