Die Weg

 

Credo vir hierdie dag

Dis doodstil. Dis douvoordag. My koffie is warm. Dis nog pikdonker. Die wêreld slaap nog. Die dag is aan die kom.

Binne enkele oomblikke sien ons die dag. Dit gaan brullend op ons afstorm wanneer die son opkom. Die stilte van die dagbreek gaan verruil word vir 'n groot geraas. Die kalmte van alleen wees gaan vervang word deur die dolle gejaag van die mensdom. Die rustigheid van die vroeë oggend gaan ingeneem word deur allerlei besluite en spertye wat in gedagte gehou moet word.

Ek gaan vir die volgende twaalf uur blootgestel wees aan die eise van die dag. En ek moet nóú 'n keuse maak. As gevolg van Golgota is ek vry om te kies. Dus kies ek:

Ek kies liefde ...

Daar is geen geleentheid wat haat regverdig nie; geen onregverdigheid wat bitterheid regverdig nie. Ek kies liefde. Vandag gaan ek God liefhê, en dié wat Hy liefhet.

Ek kies vreugde ...

Ek sal die versoeking weerstaan om sinies te wees ... dis die werktuig van die lui denker. Ek sal weier om mense te sien as iets minder as menslike wesens wat deur God geskape is. Ek sal weier om enige probleem te sien as enigiets minder as 'n geleentheid om God te sien.

Ek kies vrede ...

Ek sal lewe want ek is vergewe. Ek sal vergewe sodat ek kan lewe.

Ek kies geduld ...

Ek sal die ongerieflikhede van die wêreld oorsien. In plaas daarvan om die een te verwens wat my plek vat, sal ek hom nooi om dit te doen. Eerder as om te kla dat ek te lank moet wag, sal ek God dank vir die geleentheid om te bid. In plaas daarvan om my vuis te bal oor nuwe opdragte, sal ek hulle moedig en vreugdevol aanvaar.

Ek kies vriendelikheid ...

Ek sal goed wees vir die armes, want hulle is alleen. Goed vir die rykes, want hulle is bang. En barmhartig met die onbarmhartiges, want dit is hoe God my behandel.

Ek kies goedheid ...

Ek sal sonder geld gaan voor ek dit op 'n oneerlike manier bekom. Ek sal dinge ongemerk doen eerder as om te spog. Ek sal bely voor ek sal beskuldig.

Ek kies getrouheid ...

Ek gaan vandag my beloftes nakom. My skuldeisers sal nie spyt wees dat hulle my vertrou het nie. My kollegas sal nie my woord in twyfel trek nie. My vrou sal nie my liefde betwyfel nie. En my kinders sal nooit vrees dat hulle pa nie sal huis toe kom nie.

Ek kies nederigheid ...

Niks word deur dwang verkry nie. Ek kies om nederig te wees. As ek my stem verhef, laat dit net in lof wees. As ek my vuis bal, laat dit net in gebed wees. As ek iets eis, laat dit net van myself wees.

Ek kies selfbeheersing ...

Ek is 'n geestelike wese ... My liggaam gaan sterf, maar my gees gaan vir ewig bly lewe. Ek weier dat dit wat sal vergaan, sal heers oor dit wat ewig is. Ek kies selfbeheersing. Ek sal net van vreugde dronk word. Ek sal net deur geloof aangevuur word. Ek sal net deur God beïnvloed word. Ek sal net deur Christus geleer word.

Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Hieraan wy ek my dag. As ek dit regkry, sal ek God dank. As ek faal, sal ek om sy genade smeek. En dan, as hierdie dag verby is, sal ek my kop neerlê en rus.

Uit: Genade vir die oomblik deur Max Lucado - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) www.cum.co.za. 
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css