Die Weg

 

Volgens die weë van die Here

Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes. - Jesaja 55:8-9.

Dat God se gedagtes van dié van die mens verskil word vir ons treffend in die Bybel aangedui. Dink aan die roepingsgeskiedenis van Abraham - hy het met die vaste oortuiging gegaan dat Kanaän ook sy land sou wees, maar hy het nooit die voorreg gehad nie. Hy het gesê: “Ek is ‘n vreemdeling en bywoner” (Gen 23:4). Eers eeue daarna kon Josua die volk van Israel laat optrek na die beloofde land Kanaän. En by die uittog uit Egipte sien ons hoedat God sy volk nie langs die korste pad na Kanaän lei nie, maar langs 'n omweg. En dit was nie 'n weg wat met rose besaai was nie. Dit het deur die eensame, eentonige en harde woestyn gegaan. Vir veertig jaar moes die volk hier rondswerf om eers gelouter te word sodat hulle hul God kon vind.

Kyk wat was die omstandighede waarin die volk verkeer het toe die profeet die woorde van ons teks uitgespreek het: Nadat die tempel van Salomo vir 400 jaar in prag en praal gepryk het, is dit deur die leërs van Nebukadnesar verwoes - ook Jerusalem is verwoes. Die ergste was dat die hele volk in gevangenisskap na Babel weggevoer is. Die jare het gekom en gegaan. Hulle was al 70 jaar in ballingskap en nog is daar geen verlossing nie! Het God sy volk vergeet het, ja erger nog - het Hy Israel verstoot? Maar nee: “My gedagtes is nie julle gedagtes en julle weë is nie My weë nie, spreek die Here.” Juis op daardie oomblik toe die hele volk hulle op moedverloor se vlakte bevind het, tree die profeet Jesaja op met die heilstyding dat die verlossing naby is: “Troos, troos My volk, se julle God. Spreek na die hart van Jerusalem en roep haar toe dat haar stryd vervul is en haar ongeregtigheid versoen is.” (Jes 42:1-2).

Dat God se gedagtes nie die mens se gedagtes is nie merk ons ook op by die Messiasverwagting onder Israel. Die koms van Jesus, die Verlosser, is reeds eeue vantevore deur die profete aangekondig. Hulle het verwag dat Hy die magtige koning sou wees wat sy volk van al hul aardse vyande sou verlos, want dit is tog immers wat 'n verlosser behoort te wees! En dan kom Hy as 'n magtelose, sonder gedaante of heerlikheid, as die Man van Smarte. Israel verwag dat Hy as koningskind sou troon in 'n paleis, maar dan word Hy in 'n krip gebore en sterf die smadelike dood aan die kruis. As Hy sterf dink almal wat rondom Hom staan: nou is alles verlore, dis die einde van alles! En dan sê God: die oorwinning is behaal, want die blye opstandingsmôre breek aan: die oorwinning oor graf en dood.

Byna elke mens ondervind vroeër of later dat God se weë en gedagtes anders is as dié van ons. Ons beplan vir ons 'n weg, ons baken dit pragtig af, maak toekomsplanne wat mooi netjies inmekaar pas - maar daarna kom die hand van die hemelse Vader. Hy sny ons weg af en lei dit in ander bane waardeur ons vaarwel moet sê aan al ons heerlike toekomsdrome. Elkeen van ons ondervind dit op sy eie tyd en op sy eie manier. Baie min mense se lewe loop presies soos hy dit voorgestel of gehoop het. Ons hou koers na regs en word dan na links gedrywe. Ouers hoop op blydskap en seën van hulle kinders en ondervind helaas maar al te dikwels die teenoorgestelde. Ons dink aan vreugde en Hy stuur droefheid. Of ons dink om 'n kroon te dra en dan lê Hy vir ons 'n kruis op. Dan kry die twyfel dikwels die oorhand: Is daar nog 'n hemelse Vader? Dan kom daar 'n gevoel van bitterheid en opstand: Wie kan nog glo, wie kan Hom nog liefhê? Hom bly dien? Wie se lewe word dan nie een stuk wanhoop, smart en ellende nie? Dis alleen hý wat saam met 'n Job kan uitroep: “Ek weet my Verlosser leef!”  Dit is nie die ergste as 'n gelowige in kommer en sorg, in lyding en verdrukking verkeer nie. Nee, die ergste is wanneer ons die Here nie in en op ons smartweg ontmoet nie!

God se gedagtes en weë is egter nie alleen anders nie, maar ook oneindig hoër as dié van ons:  “want soos die hemel hoër is as die aarde, so is My weë hoër as julle weë en My gedagtes as julle gedagtes.” Dikwels dink ons dat ons weg beter is as God se weg, maar ons is so kortsigtig - Hy alleen weet wat waarlik goed is vir ons. Ons is egter nie alleen kortsigtige mense nie, maar ook sondige mense waardeur ons hele lewensrigting wegvoer van God af. Hy wil ons lewe in die juiste rigting stuur - die rigting na Hom; na die hemel. Hy wil ons vir ewig salig maak, daarom laat Hy ons dikwels eers klaend staan by die puinhope van ons aardse geluk. Hy lei ons dikwels op weë wat ons nie wil gaan nie, moeilike en smartvolle weë, maar Hy doen dit om ons te seën, tot eer van sy Naam.

Vir die kind van God is dit so onuitspreeklik heerlik om te weet dat God se weg anders en hoër is as dié van ons, want die weg by Hom loop nooit dood nie, maar altyd weer uit in die lig. Ook waar God se weg so menigmaal in nag en duisternis begin, is die einde maar weer die ewige lig. As sy weg nie anders en hoër sou wees as dié van ons nie, sou ons nooit in die hemelse Kanaän kon kom nie. As ons aan onsself oorgelaat sou word, sou ons op sondige weë ronddool, soos herderlose skape, eindigende in die ewige nag van rampsaligheid. Die Allerhoogste het in sy grote genade en ondeurgrondelike sondaarsliefde vir ons 'n weg gebaan waar geen weg was nie. Deur die kruisdood van ons Heiland ontvang ons die ewige lewe uit loutere genade. In die jongste dag sal ons Hom dank dat sý weg anders en hoër is as dié van ons. Dan sal elke raaisel opgelos wees en sal elke bange vraag wat ons hier op aarde gestel het die Goddelike antwoord ontvang - ja, dan sal ons Hom dank dat Hy ons langs die regte weg gelei het.

Al is God se weë menigmaal so duister en ondeurgrondelik, tóg mag ons nooit in twyfel verval nie. Wanneer dit vir ons lyk asof Hy ons vergeet of verlaat het, laat ons ons dan in geloofsvertroue vaster en vaster klem aan die Rots van die eeue wat nimmer sal wankel of sal wyk nie - Hy sal ons nie begewe en ons nie verlaat nie: “Kan ‘n vrou haar suigeling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie!” (Jes 49:15). 

Ds G C Coetzee in Die Blye Boodskap onder redaksie van ds TFJ Dreyer (verkort)

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css