Die Weg

 

Om die toekoms sonder bagasie tegemoet te gaan

“Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.” - Filippense 3:13-14.

Baie mense dra swaar aan die bagasie van die verlede. Dit is immers deel van die mens se geaardheid om terug te wil kyk na alles wat agter hulle lê. En dan herleef ons die twiste, die trauma, die pyne en alles wat verkeerd geloop het. Dit is gewoonlik bo-op in ons gedagtes. Dit kleef hardnekkig aan ons herinneringe soos mossels aan 'n ou boot.

Ons moet egter besef dat wat in die verlede gebeur het, nie verander kan word nie. Norman Vincent Peale het gesê dat al die verkeerde gedagtes oor die verlede jou siening oor die werklike sin van die lewe negatief kan beïnvloed en aanleiding kan gee tot allerhande senu-siektes. Die beste medikasie om jou geestelike welsyn dus te bevorder, word gevind in die woorde van Paulus: “ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. ” Maar hoe kom 'n mens daartoe om al die negatiewe gedagtes oor die verlede uit te ban? Peale stel voor dat jy elke aand voor jy gaan slaap by jou kamerdeur gaan staan, die deur sluit en sê: “Ek vergeet nou al julle nare dinge. Ek verdryf julle uit my gedagtes, want julle is slegte geselskap. Ek skop julle by die deur uit en vra julle om nie weer terug te kom nie. Ek sluit nou die deur. Ek draai die sleutel – hulle is weg”. Moenie 'n gasheer wees vir al die nare gedagtes uit die verlede nie. Dit is belangrik dat jy dit in die aand doen voor jy gaan slaap, want hulle is geneig om snags saam met jou in die bed te klim en by jou te spook. En as jy dan uiteindelik in die bed klim: “alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.” (Filip 4:8). Sodoende sal jy begin om al die slegte herinnerings met goeies te vervang en jy sal die vermoë ontwikkel om beheer oor jou lewe te neem vir 'n meer doeltreffende lewe. 'n Mens kan nie die toekoms bou op die trauma's en die skuldgevoelens van die verlede nie.

Ou Verlede, laat los en sink weg in die see
totdat peillose dieptes jou heenkome gee,
want lewendig is ek maar 'n dooie is jy;
jy deins nou terug, maar ek strewe verby
die toekoms tegemoet.

Maak los jou skulpe wat d' vaartuig bind,
want ek moet my haas om saam met die wind
te seil na die môregloed!   (Uit: Streams in the Desert, soos vertaal deur Timo Kriel)

Die toekoms lê voor ons en nie agter ons nie! Daar wag vir elke Christen gelowige 'n nuwe daeraad. Dít is waarop ons ons oë en gedagtes moet vestig. Kom ons kyk wat die Bybel hiervan sê: Psalm 137 is 'n klaaglied van die Jode wat na Babilon weggevoer is, en die woorde is verskriklik. Maar die Here roep deur die profeet Jesaja die volk op om na die toekoms te kyk as Hy sê: “Troos, troos my volk, sê julle God. Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes. ‘n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God! Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ‘n gelykte en die rotsagtige plekke ‘n laagte word. En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die HERE het dit gespreek.” (Jes 40:1-5; 53-vertaling).  Hierdie heerlikheid is geopenbaar in Christus Jesus. Hy het ons verlede skoongemaak sodat ons ons oë kan vestig op die hemelse prys wat ons deel is in Christus Jesus!

- dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css