Die Weg

 

Die steiltes is goed vir ons

Maar die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem, is ‘n land van berge en laagtes wat van die reën van die hemel water drink; ‘n land waar die HERE jou God voor sorg; die oë van die HERE jou God is altyddeur daarop, van die begin van die jaar tot die einde van die jaar.” - Deuteronomium 11:11-12.

Geeneen van ons weet wat in hierdie komende jaar op ons wag nie. Die toekoms wink vir ons en ons moet voortgaan met ons weg deur die lewe. Wat ons egter op ons pad sal vind, dít weet ons nie. Dat daar nuwe ervarings op ons wag, is gewis. Ons leef in 'n tyd van verandering, en ons probeer dikwels wegskram van dié veranderings. Want saam met al die veranderings kom daar ook onsekerheid en vrese. Maar ons kan ons troos en bemoediging vind in die teks hierbo. Luister na die verfrissende, opbeurende en verblydende boodskap van ons hemelse Vader: “Die HERE jou God sorg daarvoor. Sy oë is altyddeur daarop tot die einde van die jaar.”  Die Here is onveranderlik en wat vir sy volk gegeld het in die dae van Moses, geld ook vandag nog net so. Alles wat ons vir ons geestelike oorlewing gaan nodig kry, sal ons van Hom ontvang. Sy bronne kan ook nooit opdroog nie.

Ons kan ons geestelike lewe beskou as 'n land met berge en valleie. As ons lewe sou bestaan uit 'n onafgebroke vlakte; 'n lewe met 'n dag tot dag eenvormige bestaan, sou die eentonigheid daarvan ons terneergedruk maak. Om geestelik te kan groei het ons 'n behoefte aan berge en valleie in ons lewens. Dit is die berge in die landskap wat die vogtige lug laat styg sodat dit die reën kan vorm wat oor die vrugbare valleie uitsak. En met ons is dit nie anders gesteld nie. Die paaie wat ons soms teen steil berghange moet uitklim, dryf ons na die genadetroon van God waarvandaan die strome van seën kom om ons siele te laaf.  Hoe baie mense het nie al omgekom in die woestyn en lê begrawe onder sy goue sand nie, wat sou geleef het as hulle eerder die berge met hul steiltes gekies het! Hoeveel sou dood gevries, deur die winde verskroei en van hul vrugte gestroop gewees het as dit nie was vir die ongelyke, steil en ruwe berge nie! Die berge van God bied ook 'n beskerming vir sy kinders teen hul vyande.

'n Mens begryp nie altyd wat verlies, smart en beproewing aan die karakter van 'n mens doen nie. Maar ons kan op God vertrou. Ons Vader is baie naby en Hy is daar om ons by die hand te neem en te lei op die steil paaie wat voor ons lê. Ons moet Hom net gehoorsaam volg. Dit sal dan 'n goeie en geseënde jaar wees.

Op vreemde paaie lei Hy ons.
Steeds hoër na bo, al voel ons bene mat;
al strompel en struikel ons op die pad;
al wil storms die lig met donkerheid oordek.
Tog, wanneer die wolke weer verdwyn,
merk ons hoe Hy ons lei.

Hy lei ons deur onrusgevulde jare;
verby ons eie verwagtings, onsekerhede en vrese.
Hy rig ons treë; deur begroeide kronkelpaaie
van verlies, smart en wolkoordekte dae.
En ons weet Sy wil geskied.
Hy lei ons voort.                          -  Hiram O. Wiley (1865)

(Verwerk uit: Streams in the desert deur Chas E Cowman)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css