Die Weg

 

Lig vir die nuwe jaar

“Lig is gesaai vir die regverdiges, vreugde vir hulle met opregte harte.” - Ps 97:11 (direkte vertaling).

Ons het die (goeie) gewoonte om aan die begin van elke nuwe jaar vir mekaar seën en voorspoed toe te wens vir die jaar wat voorlê. Ja, hoe dikwels sê 'n mens dit sonder om daaroor na te dink!  Die baniere in die winkels het die afgelope tyd, te midde van raserige musiek, dit vir ons in rooi letters uitgeskree: “Geseënde Kersfees en voorspoedige nuwejaar”.

In Psalm 97 sien ons egter iets wat meer is as net 'n holklinkende heilwens. Dit is 'n ewigdurende en wonderlike belofte van God. Dit is ook nie net vir die begin van 'n nuwe jaar nie, maar ook vir die begin van elke nuwe dag!  En hierdie belofte is gegrond in die wese van God: “God is lig” (1 Joh 1:5). Iets waarvan ons hierdie jaar meer oor sal sê.

Die aanhef van Psalm 97 in die 53-vertaling van die Bybel lui: “Die Here is Koning!” En dan beskryf die digter die grootheid en wonderlike mag van hierdie Koning. Hy is werklik die Heerser oor sy skepping. Weerlig en donder kom van hom af; kragte wat die aarde in verskrikking bring (vers 4).

Maar dis nie al nie. God vertoon nie net sy krag en almag nie. Hy is ook barmhartig, vriendelik, getrou en regverdig. Dis hoe Hy homself keer op keer aan sy volk geopenbaar het. En daarom kan die Psalmdigter vol vertroue sê: “Want die HERE God is ‘n son en skild; die HERE sal genade en eer gee; Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie.” (Ps 84:12; 53-vertaling). 

Soos die son elke nuwe môre die duisternis verdryf en sy lig oor die aarde laat skyn, so sal God sy lig laat skyn oor almal wat hulle vertroue op Hom stel. Daar is geen mens nie, óók nie die gelowige kind van God nie, wat nie die een of ander tyd deur die dal van diepe duisternis in sy of haar lewe MOET gaan nie. Maar wéét dit, dat na swaarkry en verdriet daar weer vreugde sal kom vir hulle wat op Hom vertrou. Wanneer dit lyk of alles tot 'n einde gekom het, gee God altyd weer 'n nuwe begin.

Gods vriend'like aangesig
straal vrolikheid en lig
deur duisternis en smarte
vir alle opregte harte.
Regverdiges, wees bly!
En sing 'n lied daarby!
Verheug u in die Heer!
Lofsing sy Naam tor eer,
Hy's hoog en heilig, Hy!

(Ps 97:7 beryming).

En daarom, liewe lesers, bid ons vir mekaar aan die begin van hierdie nuwe jaar toe die seënwense soos ons dit vind in Openbaring 1:4-5: “Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.”

- dw -

(Met erkenning aan dr Roland Werner; Neukirchener Kalender 2018)

------------------------------------------------

Baie dankie vir al die boodskappe van ondersteuning en seënwense wat ons aan die einde van 2017 ontvang het. Ek het nie die geleentheid om hulle almal persoonlik te antwoord nie. Maar weet dat dit waardeer word!

Dit is nog 'n bietjie onseker wat in die volgende paar maande gaan gebeur. Dit mag wees dat ek die dagstukkies tydelik sal moet verminder na een of twee keer per week. Ek sal julle op hoogte hou.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css