Die Weg

 

'n Uitroepteken verpak in baie vraagtekens (slot)

(Lees saam met die vorige boodskappe)

Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. - 1 Korintiërs 13:12.

Beteken dit dan dat ons skepties moet staan teenoor elke vorm van sekerheid? Natuurlik nie. Ons moet net oppas dat ons nie as gevolg van ongeloof die prooi word van skyn-sekerhede nie. Dit kan rampspoedige gevolge hê. Hoeveel gelowige mense het nie al ineengestort by die trauma's en krisisse in hul lewens nie?

Wat hulle in die lewe mis is die egte geloofsekerheid wat jy alleen deur die Heilige Gees ontvang. En hiérdie sekerheid mag nie ondermyn word deur allerlei skyn-sekerhede nie. Luister maar na Job wat in en deur alle aanvegtinge heen nog sê: “Ek weet dat my Losser leef” (Job 19:25). Ek weet! En lees maar wat sê Paulus in Romeine 8 oor die sekerheid wat hy gehad het in sy verhouding met God deur Jesus Christus. As jý dáárdie sekerheid het, kan jy jouself ook die luukse gun om onseker oor baie ander dinge te wees.

Dit handel om die egte sekerheid van die geloof. En die egte sekerheid sluit ook in om deur 'n onsuiwere spieël in 'n raaisel in te kyk. Die egte geloof is só sterk dat spieëls en raaisels dit nie van stryk kan bring nie. Dit handel dus om sekerheid op 'n ander vlak. Die sekerheid van die getuienis van die Heilige Gees. “Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.” (Rom 8:15-16).

Ons sekerheid moet nie langer gesoek word in feilbare menslike beskouings en leerstellings nie. Veel eerder moet ons saam met Paulus triomfantlik uitroep: “in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet”, omdat “sy genade vir ons genoeg is” en omdat “niks téén ons is as God vir ons is nie.” Dit is om te leef en te stry vanuit die oorwinning van Jesus Christus.

Die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer moes ook in die gevangenis deur 'n dowwe spieël in 'n raaisel kyk. Hoe kon God die gruwels van die Nazi's toelaat? Waarom gryp Hy nie in nie? Waar is Sy almag? Waarom moet ek terwille van my geloof doodgemaak word? Soos Johannes die doper dit ook moes vra toe hy in Herodes se gevangenis gesit het: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?” (Mat 11:4), maw, “waar is u ryk dan?

Hoe kon Bonhoeffer deur al die stryd heen nog staande bly? Bonhoeffer het nie sy omstandighede teologies probeer uitredeneer nie. God was vir hom 'n raaisel, hy was vir homself 'n raaisel, die Nazi's was 'n raaisel, die wêreldgeskiedenis was 'n raaisel, die omweg van God deur die woestyn van die geskiedenis was 'n raaisel. Maar tog was Bonhoeffer meer as 'n oorwinnaar. Nie op die vlak van die rasionele denke nie, maar op die vlak van die geloof, in werklike gemeenskap met die lewende Here.

Sy laaste gedig wat hy “rusteloos, vol verlangens en angstig soos 'n voël in 'n kou” geskryf het, klink soos 'n angskreet na die lig. Uiteindelik breek die lig dan tog vir hom deur. “In dit alles meer as 'n oorwinnaar.” (sien Rom 8:37).

Hier volg sy gedig:

Wie is ek? Hierdie of daardie?
Is ek vandag hierdie en môre 'n ander?
Is ek beide tegelyk? Vir mense 'n huigelaar
en vir myself 'n veragtelike kleingeestige swakkeling?
Of is, wat nog in my is, 'n verslane leër,
wat in wanorde vlug van 'n reeds gewonne oorwinning?

Hy het geworstel met die paniek binne hom, soos 'n leër wat in wanorde vlug, sonder om te besef dat hulle reeds die oorwinning behaal het! En uiteindelik sluit Bonhoeffer tog oorwinnend af met hierdie woorde:

Wie is ek? Die eensame vrae spot met my.
Wie ek ook al is, U ken my, ek is Uwe o God!

Toe hy geen raad meer met homself en sy omstandighede gehad het nie, het dit tot hom deurgedring dat daar Één is wat van alles weet - die God en Vader van ons Here Jesus Christus. Ek ken God slegs deur 'n spieël en 'n raaisel, maar Hy ken my in sy volmaakte liefde en trou. Eendag sal ek ten volle ken soos ek deur Hom geken is.

En toe Bonhoeffer uit sy sel gehaal is om gehang te word, het hy met hierdie woorde van sy selgenoot afskeid geneem: “Nou begin die lewe vir my”.

Aanstons haal God self die uitroepteken uit tussen al die vele vraagtekens. Dit is die “aha”-belewenis wanneer ons sal sê: “O, so is dit!” 

Maar ja, dan sê ons nie “aha” nie, maar dan eggo langs die mure van die nuwe Jerusalem: “Amen, Halleluja.

Uit: niet ik ... maar Hij, deur ds J Overduin (verwerk)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css