Die Weg

 

'n Uitroepteken verpak in baie vraagtekens (5)

(Lees saam met die vorige boodskap)

Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. - 1 Korintiërs 13:12.

Ons moet dus maar aanvaar dat ons kennis beperk is. Ons “sien” immers “deur 'n spieël in 'n raaisel” (53-vertaling). En die sleutel tot hierdie raaisel het ons nie!

Ons kan 'n gemaklike en rustige lewe lei. Ons kan vir 'n lang tyd nie gekwel word deur die baie raaisels van die lewe nie, alhoewel ons elke dag daarmee deur die nuusmedia gekonfronteer word. En dit is hier waar die knoop lê. Ons is soms maar min gepla oor die leed en onreg wat ander mense ly. Maar sodra daar maar 'n klein deeltjie daarvan na ons kant toe kom, dan vind ons dit baie erg, soms verskriklik. Dan vlieg die uitdagende waarom's soos vuurpyle na Bo. Dan wil ons volkome en in volle besonderhede weet hoe die vurk in die hef steek. Dit word dan soms 'n ongeduldige ..... waarom?.....

En so swoeg en sweet ons om die raaisels te ontrafel; om God se optrede te probeer verstaan. Dan verwag ons dat God moet bewys dat die gebuigde stok in die golwende water van ons nood inderdaad reguit is, maw dat Hy tóg regverdig en tóg liefde is, en verder ook nog “dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet” (Rom 8:28). Maar ja, wie is dit anders as juis óns wat sê dat ons God liefhet en in Hom glo sonder om te sien. Ons wat veronderstel is om geen bewyse nodig te hê nie. Ons wat weet dat die “sien”, die volkome kennis, bewaar is vir die toekoms.

Dit het my opgeval wanneer ek 'n “tragiese”  begrafnis van 'n jong moeder wat nie gemis kon word nie, of van 'n veelbelowende jong man moes lei, hoe die aanwesiges afwagtend gesit en luister het dat die predikant die oplossing, die bevrydende antwoord op die vraag na die ontydige dood moet verskaf. Sal hy die raaisel kan ontrafel? Sal hy 'n antwoord hê op “waarom”? Dán moet ek nie kom met goedkoop onbevredigende teologiese antwoorde nie. Dan moet ek dit veel liewer heel duidelik sê: Ek weet dit ook nie. Ek kyk ook deur 'n spieël in 'n raaisel. Ek sien ook net 'n gebuigde stok en geen reguit stok nie. “Ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.”(2 Kor 5:7). Ek wantrou daarom al die antwoorde waarin geen vraagtekens meer is nie!

Ja, ons moet al die antwoorde wantrou wat soveel “sekerhede” bevat dat daar geen sprake meer van spieëls en raaisels is nie. Hierdie sekerhede is plaasvervangers, skyn-sekerhede wat gebore is uit ongeduld omdat ons nie wil wag op die antwoorde wat God op Sy tyd vir ons sal gee nie. Ons protesteer dan teen God wat wil hê dat ons deur geloof sal lewe en nie deur sien nie.

Dit is dieselfde skyn-sekerhede wat die vriende van Job gehad het. Job het méér geloof in sy worsteling met die raaisels gehad as sy vriende met hul onverstoorbare (skyn) sekerhede. En die man wat uitgeroep het: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!” (Mark 9:24) het méér geloof gehad as die selfversekerde skrifgeleerdes wat God en alles wat Hy doen in 'n pragtige, logiese samehang probeer vasvang het. So verwag mense dat die teologie ook op elke vraag 'n antwoord moet gee.... Om gelowig te wees beteken nie om ál die antwoorde op teologiese vrae te besit nie. Dit kan nie, want ons kennis is beperk. Ons sien deur 'n spieël in 'n raaisel. Daarom kan ons nie antwoorde op alles verskaf nie. Nog nie! Ons sekerheid lê op 'n ander vlak!

(word vervolg)

Uit: niet ik ... maar Hij, deur ds J Overduin (verwerk)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css