Die Weg

 

'n Uitroepteken verpak in baie vraagtekens (4)

(Lees saam met die vorige boodskap)

Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. - 1 Korintiërs 13:12.

Ons kyk nie net in 'n spieël waarin alles agterstevoor is nie, maar dít wat ons sien maak nie altyd vir ons sin nie. Dit is raaiselagtig. Dan skep ons maar vir onsself 'n beeld van wat ons dink dit behoort te wees. En dit is baie gevaarlik. Daar is maar Één wat die volle werklikheid weet. Daarom loop ons ons gedurig vas teen die raaisels wat ons in hierdie lewe nooit sal oplos nie. Al die “waarom's” van die lewe!

Ons kan dus sê dat die groot uitroepteken van die Evangelie van Jesus Christus in baie vraagtekens verpak is. In plaas van om die oplossings te vind, vind ons net raaisels.

Paulus sê ons sig is onvolkome en ons ken die volmaaktheid van God se wil maar net ten dele. Ons sien net fragmente daarvan, en omdat ons nie die volle legkaart onder oë het nie, is ons kennis ook beperk. En omdat ons kennis maar beperk en begrens is, sal die raaisels van die hede net raaisels bly. Baie keer as ons dink dat ons antwoorde op 'n “waarom” gekry het, loop ons ons net weer vas en kan ons nie verder nie. Dan vind ons dat ons maar net weer “deur ‘n spieël in ‘n raaisel” (53-vertaling) gekyk het.

Moses, Johannes die doper, Paulus en al die kinders van God kom te staan voor hierdie onvolkome kennis van ons, hierdie ontoereikende insig, hierdie raaiselagtige werklikheid. Dit is soos 'n reguit stok wat in 'n waterstroom gehou word. Die stok is reguit maar dit lyk asof die stok onder die wateroppervlak gebuig is. Tog weet ons dat dit steeds 'n reguit stok is. So is dit ook met die raadsplan en heilsplan van God. “Die HEER is reg in al sy weg en werk”, sê die Psalm. Maar hierdie “reguit stok”  lyk vir ons stukkend in die golwende oseaan van die wêreld en die lewe. Uit die geloof weet ons egter dat God se stok tog reguit is. En geloof eindig in loof. Hoekom anders sou die martelare in die gevangenisse en op die brandstapels kon sing?

Paulus sê egter dat dit nie baie lank meer sal duur nie voordat God, by wyse van spreke, die reguit stok uit die golwende oseaan van die hierdie wêreld sal haal. Dan sal ons nie net meer glo nie, maar sal ons ook sien dat dit reguit is. Daar is 'n groot verskil tussen nou en dan. Nou onvolkome, dan volkome. Nou in 'n dowwe spieël, dan van aangesig tot aangesig. Nou net gebrokenheid, maar dan die werklikheid.

(word vervolg)

Uit: niet ik ... maar Hij, deur ds J Overduin (verwerk)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css