Die Weg

 

'n Uitroepteken verpak in baie vraagtekens (1)

Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. - 1 Korintiërs 13:12.

Wat beteken die Christelike feesdae vir ons: Paasfees en Kersfees? Is dit slegs 'n kort tussenspel, 'n onderbreking in die sleurgang van die lewe? Volg daarop nie maar net weer teleurstelling, insinking en droefgeestigheid nie? Neem ons die fees saam met ons? Hou die fees vir altyd aan?

As dit net 'n kort tussenspel is, het niks in ons lewens verander nie. As ons die fees met ons saamneem, het iets wel verander. Maar dit is vir elke mens besonder moeilik om die feeslampe brandende te hou in die lewe van elke dag.

Kyk maar na Israel nadat hulle uit die slawerny van Egipte verlos is. Hulle het die uittog, die Ou Testamentiese Paasfees, met sang en dans gevier. Helaas het die feesstemming binne enkele dae in 'n paniekstemming verander. Dit is moeilik om tegelykertyd in twee wêrelde te lewe: (1) die sigbare werklikheid van al die moeite en risiko's van die tog deur die woestyn en (2) die onsigbare, maar hoorbare wêreld van God se belofte.

Dit is nie maklik om aan te hou sing van bevryding en die beloofde land wanneer jy met vrou en kinders deur die skroeiende woestyn moet trek, terwyl die kinders en diere kerm dat hulle doodgaan van die dors nie. Wie kan dan volhou om net te lewe van die hoorbare werklikheid van God se belofte: “Ek het dié land in jou hand gegee”! Maar waarom dan die raaiselagtige omweg van veertig jaar deur die woestyn terwyl dit maklik in een week gedoen kon word? Waarom verpak God sy uitroepteken in vraagtekens, sy hoorbare belofte in sigbare ellende, sy beloofde land wat oorloop van melk en heuning in die grote en vreeslike woestyn? Sou jý nog die feesstemming kon behou en met 'n stralende gesig kon volhou dat die hoorbare werklikheid van God se belofte veel meer werklik is as die klipharde sigbare werklikheid? Kan ons ondanks alles steeds feesvier!

Is Paasfees of Kersfees 'n tussenspel, 'n vlug uit die werklikheid, 'n godsdienstige roes om vir 'n kort tydjie van al die slegte dinge te vergeet, wat dan gevolg word deur 'n insinking en 'n depressie? Of is dit 'n beginpunt om jou hele lewe, dag vir dag, selfs in die woestyn, feestelik en optimisties te lewe?

(word vervolg)

Uit: niet ik ... maar Hij, deur ds J Overduin
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css