Die Weg

 

In teëspoed en droefheid

"Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is." - Jeremia 17:7 OAV.

In elke mens se lewe kom daar 'n tyd van teëspoed en droefheid, en die Christen gelowige is ook nie daarvan uitgesluit nie. Ons lewenspaadjie is nie altyd met rose besaai nie. Dorings en dissels sal daar altyd wees. Die een dag voel dit nog asof ons op Everest staan, met die hele wêreld onder ons voete, en net die volgende dag bevind ons ons in die dieptes van die Grand Canyon. Die loopbaan of onderneming wat jy oor soveel jare opgebou het, al jou ideale en drome, dít waarop jy jou hoop vir die toekoms gestel het; in één verskriklike dag lê alles aan skerwe.

Kan hierdie teëspoed en droefheid goed wees vir ons? Die digter van Psalm 119 stel dit só: “Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord. U is goed en doen goed; leer my u insettinge.” (Ps 119:67-68; 53-vertaling). Die teenslae van die lewe wek ons uit die slaap van ons onverskilligheid en verbreek die roes van ons selfversekerdheid. Dit maak dat ons onsself ondersoek sodat ons ons weer na God sal wend op hulp. Paulus sê: “droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie.” (2 Kor 7:10).

Nou moet ons egter net oppas dat die teëspoed nie veroorsaak dat ons sal toegee aan die versoekings wat dan so maklik oor ons weg kan kom nie. Wees op jou hoede! In die dae van teëspoed is ons op ons kwesbaarste en die duiwel weet dit. En niemand kom vry van daardie versoekings nie. Hy ken ons swakpunte maar al te goed, en dit is juis dáár waar hy ons aanval. Dan kies hy ook die mees geleë tyd vir sy bose werke, en gebruik hy soms mense wat met hul soet en mooiklinkende woorde jou na die afgrond stuur. Dink maar aan die geskiedenis van die honger profeet uit Juda in 1 Konings 13. Satan gebruik valse profete of valse apostels om ons gerus te stel soos in Jeremia 28:15, “En die profeet Jeremia het aan die profeet Hanánja gesê: Luister tog, Hanánja! Die HERE het jou nie gestuur nie, maar jy het hierdie volk op leuens laat vertrou.”  Paulus waarsku ook daarteen as hy sê: “Sulke mense is vals apostels; hulle gaan oneerlik te werk deur voor te gee dat hulle apostels van Christus is. En geen wonder nie! Satan self doen hom voor as 'n engel van die lig.” (2 Kor 11:13-14). Daarmee kan hy sy goddelose oogmerke makliker bereik. Let op na die waarskuwing van Petrus as hy sê: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.”(1 Pet 5:8).

Die versoekinge in tye van teëspoed en droefheid is soms groot en die stryd bitter. Hoeveel het nie al daaraan toegegee en gestruikel nie. Laat ons maar liewer luister na die wyse woorde van Jakobus: “Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.” (Jak 1:12-13).

Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” (Jak  4:7).

- dw -

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css