Die Weg

 

Wie is aan die stuur van jou lewe?

Ek weet, Here, die mens kan nie self sy pad kies nie, niemand kan self sy koers bepaal nie.” - Jeremia 10:23.

Watter genade is dit as 'n mens al so ver gekom het dat hy opgehou het om sy eie pad te kies omdat hy hom vasgeloop het! Watter genade, as 'n mens eindelik so ver kan kom om die stuur aan iemand anders te oorhandig. Is daar 'n mens wat dit kan waag om volgens sy eie plan en op eie risiko sy lewensrit aan te pak? Is daar 'n “alle risiko”-polis wat jy daarvoor kan uitneem? Jy kan jou laat verseker teen skade aan jou goed en jou geld. Maar is daar ook 'n versekering teen skade aan jou huwelik en jou gesin, en aan jou siel? Is daar 'n versekering vir 'n blymoedige heengaan en 'n salige sterwe?

Watter bevryding is dit om by die Here verseker te wees - onderskryf deur die bloed van Christus! En hoe bevrydend is dit as ons die stuur in God se hande kan oorlaat. Dit is so dodelik vermoeiend om altyd self te moet bestuur; om nooit eens deur iemand afgelos te word nie. Hoeveel gemoedsrus het jy as jy nie alles self hoef te dra nie: jou hele lewe, met sy ontsaglike probleme, vrae en spanninge, die voortdurende stryd om oorlewing en geestelike aanvegtinge wat jy op jou pad kan teëkom? Daarom is dit heerlik om te weet dat daar iemand is op wie ons kan terugval, soos 'n leerlingvlieënier wat wel self vlieg, maar weet die instrukteur sit langs hom. Hy vlieg so rustig want hy weet ...

Wie is die instrukteur? Aan wie gee jy die stuur oor? O, daar is genoeg mense wat graag by jou agter die stuur wil sit. Mag God jou daarvan behoed dat jy jou lewensstuur aan onwaardige hande toevertrou. Daar is maar Één in wie se hande dit veilig is. Dit is die Here! “Ek weet, Here...“, sê Jeremia. Weet jy dit ook?

Verwerk uit: De Stem achter U deur ds Gabe van Duinen.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css