Die Weg

 

Heila, hola, moenie moed opgee nie

Na aanleiding van die vorige twee boodskappe, dink ek dit is gepas om hierdie boodskap wat ek in 2013 gepubliseer het, ook nou weer op die webwerf te plaas en uit te stuur.

****************************

En van je heila, hola, houd er de moed maar in.
Houd er de moed maar in.
Houd er de moed maar in.
En van je heila, hola, houd er de moed maar in.
Houd er de moed maar in.

Bostaande is die refrein uit ’n Nederlandse lied. Dit het troos verskaf in tye van uiterste swaarkry. Die betekenis daarvan is “hou goeie moed” of “moenie moed opgee nie”.

Die volgende aanhaling (uit Nederlands vertaal en effens verkort) is van ds. Gabe van Duinen wat die Japanese strafkampe gedurende die Tweede Wêreldoorlog meegemaak het.

-------------------------------------------

Beste Mense! Ek vind hierdie ’n pragtige lied. Ek sing dit al jare en hou ontsaglik baie daarvan. Nee, ek hou nie van mense wat altyd maar hulle koppe laat hang met die lip op die derde knoopsgat nie. Gee my dan maar liewer die mense van “je heila hola!” Maar weet u wat vind ek baie jammer? Dat u die mooi, moedige lied nie tot op die einde sing nie. U hou te vroeg op.

Ek het ook die Japanese moordkampe meegemaak. In die eerste maande kon jy die mense nogal hoor sing van “houd er de moed maar in”. Maar later, toe die disenterie, die honger en die dood kom, was dit nie meer deel daarvan nie. Toe was dit verby met “je heila hola”. Toe hoor jy agter die bamboesmure die vloeke, sugte en gekerm.

Weet u dat dit eintlik van oorsprong ’n Bybelse lied is? Eeue gelede is dit (sonder die “je heila hola” natuurlik) deur Paulus gesing. En met hóm het dit ook nie so goed gegaan nie. Daar was ’n skipbreuk. Die matrose het alle hoop op redding reeds laat vaar. Die stormsee breek die wrak uitmekaar. En toe sing Paulus vir die radelose mense die lied: “houd er de moed maar in” – of soos dit letterlik daar geskryf staan: “nou vermaan ek julle om moed te hou” (Hand 27:22 OAV).

Onwillekeurig vra jy jou af: hoe kon Paulus dit doen? Wat het daaragter gesit? Was dit omdat hy goed kon swem? Of het hy probeer om die mense te kalmeer met: "wees maar net rustig, alles sal regkom!" U weet, dit is wat hulle destyds by die Titanic-ramp gedoen het. Dáár het mense met sjampanje en dansmusiek in die diepe kelders van die see verdwyn.

Maar dit is nie wat hier gebeur nie. Paulus draai geen doekies om nie. Hy vertel die mense eerlik hoe sake staan. As Paulus in die stormweer rustig is en moed hou, dan kom dit nie uit homself of van buite af nie. Dan kom dit van bo! Dit kom van God! Agter Paulus se moed staan God. Toe alles onder hom stukkend breek en wegsink, staan God naas hom. Paulus sê self: “Verlede nag het daar 'n engel aan my verskyn van die God aan wie ek behoort en wat ek dien” (Hand 27:23) .

Nou kom ek u vertel dat dieselfde God, wat in die vreeslike stormagtige nag by Paulus gestaan het, ook by u staan. En dit kom dalk vir u presies op die regte tyd. Want u sit dalk ook midde-in ’n skipbreuk. U mooi lewensskip waarop u só trots was – u gelukkige huwelik, u wonderlike gesin, u beste betrekking, u florerende bedryf, u stralende gesondheid – word deur sware storms bedreig. Dit is stormweer! U gaan onder!

U gaan nie onder nie! “Houd er de moed maar in!” God staan langs jou. Midde-in die gierende lewensstorm staan Hyself langs jou.

Sien, dit is nou die wonder van die kruis van Golgota. Dáár kom God in u lewensskipbreuk. In al die uiterlike en innerlike nood van u lewe. Daar kom God in u sonde, in u skuld, in u nood en dood. Daar word die wonderlike arms van God se vergiffenis en God se verlossing om jou geslaan met ’n liefde wat jou, selfs ook in die grootste ondergang en ellende, nooit loslaat nie.

Ons het dit heel konkreet en positief in die verskrikking van die Japanse kampe beleef. Inderdaad, die mense wat daar (waar alles van ons weggeneem is) aan die Kruis van Jesus Christus vasgegryp het, het aanhou sing tot die einde toe. Ek sal nooit die Nuwejaarsoggend van 1945 vergeet nie. Daardie dag was die nood op sy hoogste. Die skip het (figuurlik) onder ons gebreek. Die ellende was afgryslik. Die mense het letterlik met die dood in hul skoene geloop. Maar sien, toe staan daar ’n duisend verhongerde geraamtes van mense op die veld en hulle sing: “Beswyk dan ooit in bittersmart of bange nood my vlees en hart, dan sal U wees vir my gemoed my rots, my deel, my eewge goed” (Ps. 73:11). Ons het goeie moed gehou! Dit kon, want God was by ons. Dié God aan wie ons behoort en ook dien.

Sou dit vir u met u skipbreuk ook nie tyd word om aan dié God te behoort en Hom te dien nie?

Ds. Gabe van Duinen: Zie hier is UW God.

---

Hou goeie moed, want God is met jou en by jou. - dw-

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css