Die Weg

 

'n Vesting wat bly staan

Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE - dit is julle beskutting.” - Nehemia 8:11 (53-vertaling).

Die Masada-bergvesting is 'n besienswaardigheid vir elkeen wat Israel besoek. Hierdie indrukwekkende bergvesting is in 37 vC deur Herodus die Grote bo-op 'n rotsagtige plato gebou, waarvandaan jy 'n 360 grade uitsig  oor die woestyn en die Dooie See vér onder jou het. Dit was as 'n onoorwinlike vesting beskou. Daarom het die Joodse Selote, wat in 66 nC teen die Romeinse oorheersing in opstand gekom het, hulle hier gaan verskans. Hulle het gedink dat as hulle in hierdie vesting sou bly, hulle veilig sou wees. Maar ook hierdie vesting het geval. In 73 nC het die Romeinse goewerneur Lucius Flavius Silva die Masada-vesting beleër en dit uiteindelik ingeneem.

Mense bou vestings om hulle te verskans en te beskerm en om 'n gevoel van veiligheid te gee. Maar selfs die sterkste mensgemaakte vesting hou nie altyd stand nie.

Dit was ook die droewige ondervinding van die Jode wat uit die ballingskap teruggekeer het. Hulle het teruggekeer na die ruïnes van die eertydse vestingstad Jerusalem. Onder aanvoering van Nehemia het hulle die mure van Jerusalem weer herbou. Die ou mense wat nog iets van die eertydse glorie van Jerusalem en die tempel onthou het, was verdrietig (Esra 3:12). Dit sou nóóit weer soos vroeër wees nie. En nadat al die werk voltooi is en Esra vir hulle uit die Wet van God voorgelees het, het hy hierdie aangrypende woorde gesê:  “Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE - dit is julle beskutting”. God se blydskap oor jou lewe: dat Hy jou liefhet; dat sy liefde jou beskerm. Nie die tempel nie, nie die mure van Jerusalem nie, en ook nie jou huis en omheinings nie, maar God self is jou vesting. En dit is 'n vesting wat nooit sal val nie!

'Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.”' (Ps 91:1).

- dw -

(Met erkenning aan ds Arie van der Veer)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css