Die Weg

 

Om mekaar te help

“Maar Oom, hierdie koring staan nog mooi.”
“Ja Dominee, maar as hulle nie binne veertien dae reën kry nie is hulle oor die muur.”

'n Maand na hierdie gesprek kom ek weer op die plaas, en daardie pragtige koringlande is almal, soos die eienaar gevrees het, oor die muur. Dit het in 'n weiveld vir die skape verander. Waarom? Omdat, toe daar nog tyd was om te red, die redding nie daar was nie.

Koring verdroog nie in een dag nie, en tog, in die groei van daardie koring is daar 'n laaste dag waarop dit nog gered kan word. Daarna is dit tevergeefs.

So is dit ook met die mens. Sy geestelike verval is nie iets wat in een dag gebeur nie. Sy geestelike agteruitgang mag dalk oor 'n tyd plaasvind, sonder dat die mense met wie hy in aanraking is dit opmerk. En die tyd om so 'n persoon van ondergang te red kan nie onbepaald uitgestel word nie. Daar sal 'n tyd aanbreek dat daardie redding te laat kom. Wanneer daardie persoon se moed gebreek en sy eergevoel vernietig is. Wanneer die redding deur vriendskap, goeie raad, gebede, waarskuwings, hulp en kameraadskap wat ons aan mekaar verskuldig is en aan mekaar kan bied, nie meer 'n effek het nie. Soos reën op 'n dorstige koringland kan ons intree in die lewe van 'n ander en sy redding wees, maar dan moet dit geskied terwyl daar nog lewe is, terwyl daar nog die geleentheid is.

Daar is vir ons 'n wonderlike waarskuwing opgeteken in Openbaring 3 vers 2: “Wees wakker en versterk diegene wat nog oor is, wat op die punt staan om dood te gaan.” (direkte vertaling). Daardie doodgaan beteken 'n doodsheid, 'n afval, 'n verslapping. Let daarop dat die waarskuwing tweeledig is: ons kry die geleentheid om ten eerste self wakker te word sodat ons kan drink uit die strome van lewende water wat Hy aan ons bied deur ons toegewydheid aan Hom; maar dan lê daar ook op ons 'n verpligting om aan ons medemens daardie selfde hulp, moed, krag en lig wat ons ontvang het, oor te dra.

Koring sal die verfrissende lewenswater geredelik opneem. Maar die mens sal uit die aard van sy natuur dit baiekeer weier. En dit is iets wat ons te wagte kan wees wanneer ons ander tot hulp wil kom. Dit lê nie by ons of iemand jou hulp sal aanneem of van die hand wys nie. Dit is egter nie iets waaroor 'n mens jou hoef te bekommer nie. Daarvoor sal God sorg. Ons plig is om liefde, vriendelikheid, hulp, raad, gebed, teregwysing of waarskuwing in die gesindheid van Christus aan te bied. Mag God se lewende water vandag deur ons na mense vloei wat in geestelike nood verkeer!

“Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van dié wat nie sterk is nie. Ons moenie aan onsself dink nie: elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou.” ( Rom 15:1).

Ds John Murray du Toit  (aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css