Die Weg

 

Uit beproewing na rus (3)

(Lees saam met die vorige twee boodskappe)

En hulle het in Mara gekom, maar kon die water van Mara nie drink nie, want dit was bitter. ..... Eksodus 15:23.
Daarop het hulle by Elim gekom, waar twaalf waterfonteine en sewentig palmbome was... Eksodus 15:27.

Word hiermee nou gesê dat die hele lewe 'n aaneenskakeling van rampe en sorge is; dat dit 'n ewige stryd is teen die bitterhede wat God in sy wysheid aan ons toebedeel het? Dit sou ondankbaar wees om dit te beweer! Ons moet eerder dink aan die seëninge wat ons van God ontvang en wat vir ons vreugde in die lewe skenk.

Na Mara volg Elim met die palmbome en waters van rus! Na tye van moeite en verdriet kom daar weer 'n tyd om rustig te word en asem te skep, sodat ons weer met nuwe krag en 'n psalm in die hart ons pelgrimsreis deur hierdie lewe met blydskap kan voortsit.

Ons moenie ons aandag net vestig op alles wat sleg is in die lewe nie, want dan sien ons nie sy verborge skatte raak nie. Daar is die stille waters wat dalk ongemerk verbyvloei; dit is die fonteine van meegevoel en vertroosting wat uitstroom na dié wat behoeftig is en in nood verkeer. Geseënd is dié mens wat nie blind staan hierteenoor nie.

Geseënd is ook dié mens wat veral in 'n geestelike opsig die rusoorde ken wat die Here self berei. Elke rusdag is só 'n Elim waar die Sabbatsvrede ondervind kan word; waar ons in teenwoordigheid van God sy seën ontvang en die psalmwoorde in ons harte opwel: “Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees” (Ps 73:28).

Hierdie Elims skenk aan ons 'n voorsmaak van die ewige vrede wat ons sal hê wanneer ons die aardse Mara vir goed agter sal laat om tuis te kom by die fonteine van die lewende waters.

Die sonde as oorsaak van bitterheid

Ons praat so graag oor die bitterheid van die lewe wanneer ons 'n oor vind wat wil luister na die soms oordrewe verhale van ons beproewings. Dan kyk ons net na die bitterste bitterheid van die lewe en sien nie die sonde raak wat die bron van die ellende is nie. Die hele wêreld sou 'n Elim kon wees as die sonde nie in die wêreld gekom het om sy gal in ons lewensbeker te skink nie. Daarom is die eerste eis van die geloof om te bid teen die sonde wat die wêreld binnegedring het en wat so baie lyding veroorsaak. En die tweede eis is om self die kwaad wat die ellende in die lewe veroorsaak te bestry met alle middele wat God tot ons beskikking stel, in plaas daarvan om die kwaad maar net willoos te aanvaar of self daarin weg te sink.

Die mensheid kan nie verlos word voordat hy nie die wrange smaak van die sonde as iets onheiligs ondervind het nie. Dan eers sal hy die woorde van Jeremia verstaan:  “Wat kla 'n mens oor sy lewe? Laat elkeen kla oor sy sondes.” (Klaagliedere 3:39).  Dit is bitter wanneer ons leer om die diepte van ons skuld te erken; wanneer ons vir die eerste keer kalm in die dieptes van ons sondige harte inkyk. Die Mara van selfkennis en sondebesef is egter die eerste tree op die weg na Land van Belofte. En soos die Here ook Moses se gebed verhoor het, wys Hy ook aan ons die middel waardeur die bitterheid weggeneem kan word. Hy wys vir ons die hout waarvan die apostel praat: “wat self ons sondes in sy liggaam aan die kruishout gedra het; sodat ons, noudat ons ons sondes afgesterf het, vir geregtigheid kan leef” (1 Pet 2:24). Hierdie hout (die kruishout) neem die bitterheid weg! Desondanks keer ons telkens na die Mara terug omdat ons tot by die graf sondaars bly, maar ons ken tog ook die vrede van Elim, waarvan Jesaja sê: “Ja, God is my heil, ek sal vertrou en nie vrees nie; want die HERE HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. En julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil.” (Jes 12:2-3).

Uit: In de Schuilplaats deur ds JJ Knap Czn (verwerk).

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css