Die Weg

 

Geloof is geen rede tot hoogmoed

Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.” “Kom!” sê Hy. Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!” Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” Hulle het toe in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. - Mattheus 14:28-32.

Hierdie is 'n baie bekende stukkie geskiedenis waaroor daar al baie gesê is. Dit handel in hierdie verse oor Jesus, oor 'n mens en oor 'n storm. Dit lyk wel asof Jesus die storm beplan het. Ons lees hoe Jesus bó die storm gestaan het. Hoog op 'n berg met 'n uitsig oor die bruisende water van die see van Galilea. Hy is verhewe bo die stormgedruis.

Drie nagwake, dit wil sê, nege lange ure het die dissipels teen die wind en die storm baklei, nou is hul kragte uitgeput en kan hulle nie meer nie. Maar Jesus het hulle wel gesien (Mark 6:48) en Hy kom om hulle te help.

Die maan breek af en toe deur die wolke en in hierdie afwisseling tussen die donker en die skemerlig van die maan is Hy die een oomblik onsigbaar om daarna weer uit die duisternis op te duik. Dit is ..... wat is dit.... ? Dit is .... 'n spook! Die dissipels skree van angs, maar die Here stel hulle gerus: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”  Elkeen van die dissipels sou op sy eie manier op die verskyning reageer. Maar ons lees net van Petrus se optrede. Petrus het sy Meester herken: Ja .... dit is Jesus! En Petrus sê:  “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.” En Petrus gaan!

Hoe sou ons opgetree het? Sou ons dalk ook die waagstuk geneem het om te gaan, maar ons eie maatreëls geneem het vir geval ons onder die golwe beland? Ons sou dalk 'n tou om ons middel gebind het en aan iemand gevra het: “hou asseblief vas, jy kan nooit weet nie, net vir ingeval”.

Ons hele geloofslewe word gekenmerk deur hierdie woordjies: “net vir ingeval”. Ons het ons toutjies vir alle moontlike omstandighede en merk nie eens dat ons siel daarmee ten gronde gaan nie.

Ons staar ons so vas teen die golwe dat ons Jesus nie meer sien nie. As ons sover kan kom dat ons die golwe vergeet en die Here alleen sien, dan sal dit goed gaan. “Indien julle geloof het soos 'n mosterdsaad ....” Johann Wolfgang von Goethe het gesê: Wonderwerk is die lieflingskind van die geloof.  

Petrus loop oor die golwe terwyl hy met sy oë, sy geloof, vashou aan Jesus. Totdat ..... dit het nie lank geduur nie. Plotseling breek die geloofsband..... in één sekonde flits die vraag deur sy siel: wat doen ek?! Vir 'n oomblik kyk hy om hom rond en verloor Jesus uit die oog sodat twyfel hom oorval. Nou sien hy nie vir Jesus nie, maar die ontsettende golwe wat soos wilde perde op hom afgestorm kom. Uit die golwe klink die noodkreet:  “Here, red my!” Het Petrus sy geloof verloor? Nee, want in sy nood roep hy: “Here”. Dit is 'n nodige en heerlike stukkie geloofsgeskiedenis.

In die eerste plek was dit nodig. Ek kan my nie voorstel dat dit vir Petrus goed sou wees as hy ongehawend oor die golwe tot by Jesus geloop en met Hom in die boot geklim het nie. Sou hy nie verskriklik hoogmoedig geword het nie? As ons hom so sien loop op die golwe, – so salig –, en daarna sien sink, – so armsalig -, dan moet ons onwillekeurig dink aan Paulus. Dit is heel ander omstandighede, maar dit kom op dieselfde neer.

Paulus was 'n bevoorregte mens. Dink maar wat hy vertel in 2 Korintiërs 12 as hy in die derde persoon van homself praat. Hy is weggeruk tot in die derde hemel en het woorde gehoor wat hy nie kan of mag uitspreek nie. Maar, so sê hy kort daarna: “... sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan.” 

As Petrus heel rustig en verseker langs Jesus geloop en in die boot geklim het, sou dit 'n “hoera” vir die dappere Petrus gewees net. Nou is dit heel anders: die aandag is van Petrus afgeneem en volledig op Jesus gerig: 'Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê: “U is waarlik die Seun van God.”' Tog was die ervaring goed vir Petrus.

As 'n mens só 'n ervaring met die Here gehad het, só met jou hele wese aan Hom vasgehou het en Hy jou uit die stormsee getrek het, kom jy nooit meer los daarvan nie en besef jy weer hoe swak jy in jouself is en hoe groot die Here is.

Uit: Licht en Kruis deur A.K Straatsma (verkort)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css