Die Weg

 

Fonteine van seën

.... wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom 'n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” - Johannes 4:14.

Die beeld wat die Here Jesus hier gebruik is nie dié van 'n gewone stroom water nie, maar van 'n borrelende fontein. Ons weet teen hierdie tyd natuurlik dat die water waarvan die Here Jesus praat, verwys na die Heilige Gees wat in ons werk. Daarom kan Paulus sê: “word met die Gees vervul” (Ef 5:18; 53-vertaling). En dit kan alleen geskied as jou verhouding met die Here Jesus reg is. Dan sal wat Hy aan jou gegee het, meer oorvloedig weer uit jou uitvloei.

Die Bron van hierdie lewende water is Jesus Christus en Hy wil hê dat jy jou fokus op Hom sal hou. Maar Hy het nie gesê jy moet dit doen sodat jy persoonlik geseën sal word nie.  Nee, jy moet jou fokus op Hom hou sodat strome van “lewende water” uit jou binneste kan vloei na ander geestelik dorstige mense:  "Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” (Joh 7:38).

Ons moet daardie fontein wees waaruit en waardeur Jesus se seën vir elke mens as strome van lewende water kan vloei. Baie van ons is egter eerder soos die Dooie See. Ons ontvang gedurig, maar daar vloei nooit iets uit nie omdat ons verhouding met Jesus Christus nie reg is nie. Wanneer ons net seëninge wil ontvang, maar niks van wat ons ontvang uitgiet nie, is daar beslis 'n groot probleem in ons verhouding met Jesus Christus. Ons het dit verniet ontvang, verniet moet ons dit gee (Matt 10:8). As ons geloof in Jesus Christus reg is, sal die strome lewende water van die Gees uit ons binneste vloei. Dit is nie net 'n enkele seën of ervaring wat jy met ander deel nie, maar 'n standhoudende rivier wat voortdurende deur jou vloei vanaf die Bron, Jesus Christus, na ander mense, sodat dit vir hulle tot seën kan wees. Dan sal daar geen dorheid en doodsheid in dié mense se harte meer wees nie.

Is dit 'n oordrywing as ons so praat? Sê jy dalk vir jouself: “Maar ek sien geen riviere nie”? Gaan lees die Bybel en gaan kyk terug in die geskiedenis. Dwarsdeur die geskiedenis van God se handelinge met die mens sal jy dit vind by die onbeduidende, onbekende en nederige mense wat standvastig was in hulle trou aan Hom. Daarom sê Jakobus: “Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie?” (Jak 2:5). En in Handelinge 3 en 4 sien ons hoe Petrus, deur die werking van die Heilige Gees, binne enkele weke verander het van 'n vertwyfelde visserman tot die selfversekerde verdediger van die evangelie voor die Joodse Raad. “Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense” (Hand 4:13).

Laat elkeen van ons dan drink van hierdie Bron sodat ons self fonteine kan wees van water wat opborrel tot in die ewige lewe. Dan kan daar weer lewe in verdorde en dooie harte kom, nie net in dié van onsself nie, maar ook in dié van ander.

Oswald Chambers: My Utmost for His Highest (verwerk)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css