Die Weg

 

Woord wat lewe gee

“Onthou tog u woord aan my, die woord waarop U my laat hoop het. Dit is my troos in my ellende: dat u belofte my in die lewe hou.” - Psalm 119:50 (53-vertaling).

Die Woord van God vervul ons elke dag met nuwe krag. Dit is soos 'n standhoudende fontein van lewende water waaruit ons elke dag kan skep. En wanneer ons hierdie lewende water in ons opneem, word ons met nuwe lewe vervul. Dit versterk ons sodat ons op ons weg deur die lewe kan voortgaan, selfs as alles rondom ons dor en droog is. Ook in tye van nood en ellende hoef ons nie in wanhoop te verval nie, want God se woord is vir ons 'n troos en 'n lig op ons pad. Dit is wat die digter van Psalm 119 ervaar het. Hy het God se woord deel gemaak van sy hart. Hy het op God se beloftes vertrou. Ook die aanslae van buite kon dit nie van hom wegneem nie. Inteendeel. Dit het hom steeds nader aan God gebring.

Dit is ook vir ons beskore. As ons na God se stem luister en doen wat Hy van ons vra, word ons lewe verbreed. Dit is net deur sy Woord wat ons die ware geluk en vrede kan vind. Dan kan ons sing:

In u wet smaak ek 'n vreugde
groter as waar hy van weet
wat sy goed en aardse skatte
in hul waarde nie kan meet.
Daarmee bly ek altyd besig,
daar 't my soetste oorpeinsing is;
mag maar niks die bron van vreugde
ooit uit my gedagte wis.

Help my, HEER, dat ek kan lewe;
dan wil ek u woord bewaar.
Laat my oog aanskou die wonders
wat u wet my openbaar.
Wat besit ek hier op aarde?
Niks is daar wat my behoort.
Maar een ding, daarna verlang ek -
dis die rykdom van u woord.

Laat ons liewer as om na die aardse dinge te smag, ons krag put uit die Woord van God. Laat ons dit voorop in ons gedagtes stel en vashou aan die wonderlike beloftes wat Hy aan ons toegedeel het.

“Ek het u woorde verslind toe hulle gekom het, hulle was vir my 'n vreugde; ek was bly daaroor dat u Naam oor my uitgeroep is, HERE, almagtige God.” (Jer 15:16).

Neukirchener Kalender 2017 (aangepas)

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css