Die Weg

 

Om die weg te volg wat Jesus vir ons aandui

Wat help dit 'n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor?” - Markus 8:36.

Die vorige boodskap is afgesluit met dié woorde: “Daarom wil ek graag die weg volg wat Hy vir my aanwys. En ek loop dit nie volgens wat ander mense sê nie, maar soos Jesus dit vir my aangetoon het.” En hierdie weg is nie altyd maklik nie, juis omdat dit die weg is na die ewige lewe. Daarom sê Jesus: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.” (Mark 8:34-35).

Om jouself 'n Christen te noem, beteken dat jy Jesus Christus in alles sal navolg. Dat sy lewe die maatstaf is waarteen jy jou eie lewe gaan meet. As navolger moet jy jou lewe met Hom deel en van Hom leer. Jy stel jouself dan in die skool van die geloof waar Hy self die leermeester is.

Hierdie is 'n skool wat 'n totale ander waardestelsel het as enige ander in die wêreld. Dit berei jou nie voor vir 'n loopbaan of bekendheid of 'n hoë inkomste of 'n invloedryke posisie in die samelewing nie. Inteendeel, om in die voetspore van Jesus te volg en van Hom te leer, beteken om jou eie belange ondergeskik te stel aan dié van Hom. Hy is immers die hoogste en beste wat daar vir ons in die lewe is. Daarom word jou lewe ook 'n getuienis vir Hom.

In die skool van Jesus Christus leer jy ook dat wat jy dikwels as die grootste gewin in jou lewe beskou, vir jou in werklikheid diepe en blywende skade kan aanrig (Jak 5:1-5). Jesus wys dat daar geen "goedkoop" manier is om Hom na te volg nie. Ons leer dat daar ook vir ons 'n lydensweg mag wees; dat vervolging en verdrukking op ons pad kan kom (Mat 5:10, Joh 15:20). Maar in alles leer ons en ondervind ons ook die liefde van Christus vir ons:
“Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? ...Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” ( Rom 8:35-39).

'n Verstandige mens se pad loop boontoe, na die lewe toe; hy ontkom die doderyk daar onder.” (Spr 15:24).

- dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css