Die Weg

 

Die groot versoeking

U leer ons om te sê:
 “Lei ons nie in versoeking nie.”
So bid ons U na u Woord.
Dit gaan nie om die klein versoekinge
wat ons harte gevange neem,
of ons sintuie verwar nie,
maar die één groot versoeking:

Soveel, Vader in die hemel,
gebeur sonder sigbare sin.
Bewaar ons daarvan, om te sê:
“Dit het geen sin nie.”
Dit is die versoeking wat ons vrees.

Daar is soveel leuens in die wêreld.
Ook binne onsself.
Bewaar ons daarvan, om te sê:
“Daar bestaan geen waarheid nie.”
Dít is die versoeking.

Daar is soveel lyding,
soveel kwaad rondom ons.
Bewaar ons daarvan, om te sê:
“Daar is geen God wat dit sien nie.”

Soveel geweld woed hom uit,
ook binne onsself.
Soveel boosheid.
Bewaar ons daarvan, om te sê:
“Die Bose besit die mag;
- die geweld regeer.”

Lei ons nie in die versoeking nie,
om aan u nabyheid te twyfel;
aan u mag en heerskappy.
Lei ons nie in die versoeking nie,
om die leuen magtiger te beskou as U;
die onreg sterker
as u geregtigheid.

Lei ons nie in die versoeking nie,
om u hand los te laat;
onsself aan die wêreld oor te gee,
en in leuens en onreg te deel.
U is die Geneesheer.
Heel en reinig ons gees,
en lei dit na die onmeetlike ruimte
van u waarheid.

Jörg Zink: In dir sein, Gott, ist alles, Gebete
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css