Die Weg

 

'n Psalm van dankbaarheid

“Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!“ - Ps 103:2 (53-vertaling).

Die Psalmdigter spreek sy siel aan asof hy dit uit die slaap wil skud, want daar is só baie om oor te sing en God te prys. Ons moenie treur oor wat verby is nie en ons nie verknies oor die toekoms nie. Ons sien dikwels nie die kosbaarhede van die oomblik raak nie, omdat ons dink dat daar iets in die toekoms wag wat ons meer gelukkig sal kan maak. Tog is God nou, op hierdie oomblik aktief besig om te vergewe, te genees, te verlos, te versadig en geregtigheid en reg te doen. Daarom, leef in die hede! Leef in God, wat gister en vandag dieselfde is en tot in ewigheid! Laat dit voldoende wees vir ons.

Die Psalmdigter kyk terug op die getuienisse uit die verlede en hoe God met Sy volk gehandel het (v 6-8). Dít moet ook vir ons 'n aansporing wees vir ons geloof, want wat Hy was, dit is Hy. Hy is 'n fontein vol ontfermende liefde; 'n fontein wat oorloop van genade en vergifnis.

Daar is drie vergelykings in verse 11 tot 18. “So hoog as die hemel is bo die aarde... So ver as die ooste verwyder is van die weste ..... Soos 'n vader hom ontferm .....

1) Watter betekenisvolle diepte lê daar nie in die woorde nie: “So hoog as die hemel is bo die aarde.” So oneindig as wat die afstand bo ons is, so oneindig is God se genade.

2) Vir die Oosterling was die ooste en weste die punte waar die son skynbaar bokant die oppervlakte van die aarde opgekom en weer weggesak het om die gordyn vir die nag toe te trek. Die ooste en die weste kom egter nooit bymekaar uit nie - só ver het God ons oortredinge van ons verwyder.

3) 'n Vader se ontferming vir sy klein en swak kindjie is baie roerend. Die sterkste pleitgrond wat ons voor God het, is ons hulpelose swakheid! Ook die Seun van God het dit deurgemaak toe Hy die gestalte van 'n mens aangeneem het. “Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is”. Dít was ook in die Here Jesus se gedagte toe Hy na die blomme by Sy voete gewys het (Mat 6:28-30). Generasies van blomme bloei en sterf in die wye uitgestrektheid van die natuur - so tenger, so mooi, so verganklik. Net so is die menslike geslagte ook nie van blywende aard nie. Die ontferming van die Here is egter van ewigheid tot ewigheid.

Die psalmdigter jubel dit uit: “Loof die Here, o my siel!”  Die Here luister en hoor die lof van elkeen van sy kinders.  Net soos die geoefende oor van die dirigent die noot van die piccolofluit in 'n groot orkes sal mis, so sal God jou stem mis wanneer jy nie meer Sy lof besing nie. Dit herinner ons aan Paulus en Silas in die tronk in Filippi: “En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister.” (Hand 16:25).

Gebed: O Here, U wat U kosbaarste gawes aan U kinders uitdeel sonder om te verwyt; U onwaardige kinders ontvang die gawes uit U hand waarvoor ons geen woorde het nie. Gee dat ons sal juig in al die goeie wat U aan ons geskenk het. Amen.

FB Meyer: Our Daily Walk
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css