Die Weg

 

Waar lê ons prioriteite?

Julle het baie gesaai, maar min geoes; julle het geëet, maar nie genoeg gekry nie; julle het gedrink, maar dors gebly; julle het klere aangetrek, maar nie warm geword nie; julle is soos 'n dagloner wat sy loon in 'n stukkende beursie steek. So sê die HERE die Almagtige: Neem ter harte wat met julle gebeur. Gaan haal hout in die berg en herbou my huis sodat Ek my eer kan ontvang en tevrede kan wees, sê die HERE. Julle het 'n groot oes verwag, maar min gekry, en wat julle nog huis toe gebring het, het Ek laat verdwyn. Waarom? vra die HERE die Almagtige. Omdat my huis in puin lê, terwyl elkeen van julle hard besig is om aan sy eie huis te werk. - Haggai 1:6-9.

Ons sug maar voortdurend dat die tye swaar is, dat dit nie so goed gaan soos dit behoort te gaan nie. Die gevolg is dat God maar tevrede moet wees met die tweede plek in ons lewe. Dit is presies wat ons in Haggai 1 ook sien.

In die Ou Testamentiese Israel was die tempel die simbool van God se teenwoordigheid onder die volk. Daarom, met die terugkeer uit die ballingskap, was die opdrag aan die ballinge om allereers die tempel te herbou. Die HERE het dit so beskik dat hulle deur koning Kores van Persië ook die middele daartoe sou ontvang (Esra 1:1-3). Maar die  volk van God het met sy terugkeer uit ballingskap niks verder gekom as die lê van die fondamente van die tempel wat hulle moes bou nie. Hulle was só besig met hul eie besittings en behoeftes dat hulle nooit tyd vir God se werk gehad het nie. Hulle hart was by hulle eie besittings en nie by God nie.

Hierdie optrede van die volk het egter nie hul posisie verbeter nie. Hoe harder hulle gewerk het, hoe swaarder het hulle gekry. Hulle saai baie, maar oes min. Hulle eet, maar kry nie genoeg nie. Hulle drink, maar bly dors, trek klere aan, maar word nie warm nie.

Dan kom die Woord van die HERE deur die profeet Haggai na hulle om na te dink oor wat met hulle gebeur het. Hulle moes introspeksie hou en na hulle optrede teenoor God, die Gewer van alles, kyk. Hulle moes kyk of hul lewenswandel vir hulle enige blywende vrug in die sak gebring het.

Is die probleem nie ook dieselfde waarmee ons vandag te doen het nie? Ons is elke dag só besig met ons eie dinge, ons werk, ons huis, ons toekoms, dat God glad nie deel daarvan is of deel daarin het nie. Daar is net nie tyd vir God nie. Ons sal nog miskien help om die een of ander fondament vir sy koninkryk te lê, maar wanneer die eintlike bouwerk gedoen moet word, is ons nie beskikbaar nie.

Daarom roep die Woord van die Here ons vandag op om selfondersoek te doen en aan Hom en sy koninkryk die ereplek in ons lewensopset te gee. Sê Jesus dan nie self vir ons nie: “Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. “ (Matt. 6:33).

Gebed: Here, leer my vandag om U in alles wat ek doen eerste te stel, en verheerlik Uself in en deur my lewenswandel. Amen.

Uit: Byderwets en byderwoords – saamgestel deur Annes Nel (Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy) (Verwerk)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css