Die Weg

 

Nie meer geknakte riete nie

Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ‘n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring. Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie. Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring. Hy sal nie dof brand of geknak word, totdat Hy die reg op aarde gegrond het nie; en die eilande wag op sy leer."  - Jesaja 42:1-4 (53-vertaling).

Om net te herhaal wat in die vorige boodskap gesê is:

Die tweede gedeelte van die boek Jesaja, Jesaja 40-55, ook genoem Deuterojesaja, het sy ontstaan gedurende die Babiloniese ballingskap gehad. As gevolg van hulle ongehoorsaamheid en afvalligheid van die HERE hulle God, is Israel in ballingskap weggevoer. Die eens glorieryke volk van God lê in die stof. In die woorde van Psalm 137: “By die riviere van Babel, daar het ons gesit, en ons trane het gevloei as ons aan Sion dink. ” 

Kort tevore (Jesaja 41:14) het die HERE deur sy profeet vir die volk gewys hoe afhanklik hulle van Hom is en hoe Hy Hom oor hulle sal ontferm. En as die HERE tot hulle praat in Jesaja 42, dan is dit woorde wat hulle kan verstaan. Want was hulle nie ook soos geknakte riete en dowwe lamppitte nie? Dan gaan die HERE voort en Hy toon aan wat sy plan met die wêreld is: Hy sal die volk wat daar in ballingskap sit, uitred, en uit hulle te voorskyn laat tree die Éen wat nie net vir Israel nie, maar ook vir die hele wêreld tot seën sal wees.

Ongeveer 600 jaar later klink hierdie selfde woorde weer op uit Matteus: “... sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur Jesaja, die profeet: Kyk, my Kneg wat Ek uitverkies het, my Geliefde in wie my siel ‘n welbehae het! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal aan die nasies die reg aankondig. Hy sal nie twis of uitroep nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie. ‘n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en ‘n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie, totdat Hy die reg tot oorwinning uitbring. En op sy Naam sal die heidene hoop.” (Matt 12:15-21).

Met die koms van Jesus Christus na die aarde is die profesieë van die Ou Testamentiese tyd vervul. Sonder trompetgeskal het Hy na die aarde gekom om ons uit die knellende band van die sonde te verlos.

Hoe duidelik is die verband tussen die volk in ballingskap en ons eie lewe van vandag! Baie van ons is soos riete wat geknak is deur die storms van die lewe, óf deur beproewings wat oor ons pad gekom het. Maar, al vloei die trane waar ons langs ons eie rivier van beproewing sit; al voel ons geestelik platgeslaan, en gebroke en verslae asof ons in 'n vreemde land verkeer, het ons die vaste belofte dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie. As ons dalk voel soos dowwe, rokende lamppitte; as ons geloofslewe besig is om te kwyn en die twyfel besig is om ons onder te kry, dan is dit juis die tyd dat ons ons na Jesus Christus moet wend.  

Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur. God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle 'n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.“ ( 1 Pet 5:7-10).

-dw-

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css