Die Weg

 

Jesus bo die storm (1)

En dadelik het Hy sy dissipels gedwing om in die skuit te gaan en vooruit te vaar na die oorkant, na Betsáida, onderwyl Hy die skare sou wegstuur.” - Markus 6:45 (53-vertaling; vergelyk ook die Nederlandse Statenvertaling en die King James vertaling).

“En Hy het gesien dat hulle swaar kry met roei, want die wind was teen hulle.” - Markus 6:48 (53-vertaling).

In die voorafgaande verse word vertel hoe Jesus 'n skare van 5000 mense met vyf brode en twee visse gevoed het. Onmiddelik daarna sien ons hoe Jesus sy dissipels dwing om in die skuit te klim en na die oorkant van die see van Galiléa te vaar. Waarom doen die Here dit? Waarom wou Hy sy dissipels nie langer by Hom hê nie?

Miskien gee Johannes die antwoord wanneer hy vertel hoe die skare Hom met geweld koning wou maak nadat Hy hulle gevoed het (Joh 6:15). Dit het Hom sekerlik met droefheid vervul dat die skare koud teenoor sy woorde van ewigheidswaarde gestaan het, maar geesdriftig geraak het toe Hy vir hulle brood gegee het! En dit is ook waarskynlik dat die dissipels in hulle selfsugtige Messiasverwagting die skare daarin ondersteun het. Daarom stuur Hy sy dissipels weg en gaan Hy alleen die berg op om tot die Vader te bid. 

Terwyl Jesus op die berg was, breek 'n geweldige storm oor die see uit. Die visserskuit dobber buite beheer op die reusagtige golwe. Die dissipels was in nood! Op die berg, vér bokant die woeste see, staan Jesus. In die verte, vér onder in 'n klein bootjie, sit mense, vreesbevange mense. Die golwe tel hulle op tot die kruine en gooi hulle die volgende oomblik weer in die diepte in. Die skuit kraak en knars.

Maar dan lees ons verder: “En Hy het gesien dat hulle swaar kry met roei”. (Die Nederlandse en Duitse vertalings stel dit heftiger: dit was vir die dissipels 'n pyniging, hulle het in nood verkeer.) Vanaf die hoogte het Jesus na die gevaar gekyk waarin sy dissipels verkeer het. Tóg het Hy nie dadelik opgetree nie. Want in die volgende verse word vertel dat hy gewag het tot die vierde nagwaak, dit is teen 3-uur die oggend. Ure lank het Hy hulle aan hulle eie worsteling oorgelaat, skynbaar asof dit Hom nie geraak het nie. En tog was dit Hy wat hulle gedwing het om op die see uit te vaar. Waarom doen Hy dit dan? Want dit is egte liefde! Hulle moes deur 'n proses gaan waarin hulle hulself, onder sy wakende oog, kon vind.

Soos 'n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei” (Deut 32:11). In sy boek “De laatste der Arenden” vertel Bengt Berg, hoe hy die gedrag van arende bestudeer en aanskou het hoe die voëlmoeder met groot trou vir haar kinders kos aangedra het totdat hul vlerke sterk genoeg was om uit die nes te kon vlieg. Maar die jong voëls was te bang om die nes te verlaat. Daarom, op 'n dag, het die moederarend net weggebly. Die jong arende het geskreeu van die honger! Waar was die moeder? Het sy haar kinders vergeet? Maar dan ontdek die skrywer die moederarend waar sy op 'n tak, onsigbaar vir haar kinders, na hulle sit en kyk. Sy hoor hul geskreeu, maar bly net sit, want sy weet dat dit die enigste manier is om hulle te dwing om die veilige nes te verlaat. Dit is moederliefde!

Jesus se liefde is arendsliefde. So staan Jesus ook bo ons storm en ons nood. Ons sal graag wou dat Hy ingryp in die goddeloosheid en die ellende om ons heen, soos sy dissipels wou doen by die ongasvrye Samaritane: “Here, wil U hê ons moet sê dat vuur van die hemel afdaal en hulle verteer” (Luk 9:54). Ons dink dalk ook dat die tyd van die vuur nou aangebreek het sodat die wêreld kan sien wie die Koning is.

Maar die vuur kom nie, en Jesus kom nie, nog nie! Die Here staan maar rustig op die berg en los ons in die storm. Die eerste nagwaak....... die tweede nagwaak...... die derde nagwaak, .... wie weet hoe lank nog, wie weet hoe erg nog! Waarom doen die Here dit? Omdat ons iets uit ons lewens moet verloor wat ons alleen in die storm kan verloor: die eie ek. Omdat ons dit alleen werklik sal opgee as ons bootjies in die storm kraak en die seile skeur, sodat ons niks anders het nie as om met saamgevoude hande te bid: Here, wanneer kom U?

Dit is die heilige liefde, dit is die arendsliefde, waarmee Hy die nood van sy kinders aansien.

(word vervolg)

Uit: Vlucht en Toevlucht deur A K Straatsma (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css