Die Weg

 

Wie klop daar? (3)

(Lees saam met die vorige twee boodskappe)

“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan” - Openbaring 3:20.

'n Mens moet darem ook luister as jy 'n goeie gesprek wil voer.  En luister is nie altyd maklik nie. Sommige mense luister maar sleg en daarom is hulle nie goeie gespreksgenote nie. Hulle is altyd alleen aan die woord. 

Miskien wil ons by God ook dikwels te veel aan die woord wees en luister ons te min. Ons bid net sonder om te luister. En so val ons gesprek met God uitmekaar deur eensydigheid.  Ons moet leer om te luister.

Ons luister te min na God. Waarom sal ons? Daar is mos soveel waarna ons kan luister. Ons luister baie graag na die siening van ander mense, en moet ook nie die media vergeet nie!

Dan, skielik, midde in die drukte van ons daaglikse bestaan – selfs in die uitgelatenheid van 'n feestelike aand – beland ons in 'n krisis waaruit ander mense ons nie kan help nie! Die Here het ons op die skouer getik. Ons is aangespreek. Van daardie oomblik af kan ons nie meer aan die wêreld meedoen nie. Dan word ons geforseer om te luister na dít wat regtig belangrik is. Ons luister na ...... God!  En dan gaan hierdie luister oor in 'n geroep. Die nood in jou hart dwing jou om tot God te roep om hulp. Tot Hom wat jou in 'n gesprek met Hom ingedwing het. En die Here wys daardie geroep nie af nie.

“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan” (Open 3:20). As ons vir Christus die deur oopmaak kom die Here by ons in. Dan begin ons gesprek met God. Dan behandel Hy die mens as volwaardige, verantwoordelike gespreksgenoot. So het Hy met Moses gepraat, en met Abraham en met Henog. Watter intieme omgang is dit nie! Die gesprek met God is 'n egte, ware gesprek. God spreek en die mens luister. Die mens spreek en God luister. Dit word die gesprek van ons lewe. Dan gaan daar iets van die wonder van sy wese vir ons oop – die misterie van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Dan ontdek die mens by homself die liefde van God wat alles bedek. Dan word dit 'n gesprek wat gehul is in die versoenende en seënende liefde van God.  Dit is 'n gesprek tussen God en ons by 'n vrolike bruilofsfees, maar ook as ons saam met ons familie en vriende swygend ons seun na die graf dra. Dit vee die trane van ons wange. Die gesprek hou nooit op nie. Die laaste woord wat ons in hierdie lewe sal wissel, sal teenoor Hom wees: “In u hand lê ek my lewe”. En dan eindig die gesprek nie. Dan begin dit éérs!

Uit: Gesprekken met God deur ds Gabe van Duinen.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css