Die Weg

 

Weg met die vulliswa...

Ek het huis skoongemaak om van alle onbruikbare en ongebruikte goed ontslae te raak. Dié het ek sommer met die vulliswa weggestuur. Waarom sou ek dan nie ook my Christelike opvoeding, my huisgodsdiens, my kerkbesoeke daarby voeg nie? Dit is maar net nog deel van die rommel in my lewe. Goed wat ek nie meer gebruik nie.

My ouers het die teuels baie styf vasgehou toe ons kinders was. Twee keer op 'n Sondag moes ons kerk toe gaan. Maar aan die preke het ek niks gehad nie. Die enigste wat vir my belangrik was, was die woord “Amen”. En ek moes so lank sit en wag daarvoor! Dan nog die Sondagskool en die Jeugvereniging. Vir my was dit net teveel!

Die oomblik toe ek op my eie bene kon staan het ek uit daardie gevangenisskap weggevlug. Ek het met álles gebreek. Ek was sat daarvoor. En die meisie wat ek ontmoet het was meer wêreldwys. Ek kon haar seker van God se genade vertel het. Maar ek wou nie. So het ons lewe buitekerklik geword. Ons het ons kinders nie gedoop nie. Waarom sou ek dit doen? Vroeër toe Ouma nog 'n daggie vir ons kom kuier het, het sy vir die kinders uit die kinderbybel gelees. Maar nou is Ouma dood en is dít ook dood.......

........ Ek het die hele nag deurgery om betyds vir my vergadering in Kaapstad te wees. Het ek agter die stuur ingesluimer? Toe hulle my naby Klapmuts uit die motorwrak lossny, was ek .... ja, waar was ek? Ek het in 'n lugleegte van daelange bewusteloosheid geval. En toe ek daar uitkom en die dokter my die waarheid oor my toestand vertel, toe val ek eers. Ek swyg en ek val.... dae aaneen het ek niks anders gedoen nie as val..... val.... val......

Die suster wat my dag en nag in hierdie donker tyd bystaan, sê dat my “valskerm” die enigste is wat my nog kan help. Dít is hoe sy geloof noem: “Jy moet jou valskerm gebruik!” Ek lag grimmig. My valskerm gebruik? Het ek dit dan nie op die vulliswa gegooi nie! Maar sy hou voet by stuk:  “Wie U aanroep in die nood, vind u guns oneindig groot”. En dan vra sy weer: “Het jy al geroep?

Totdat ek toegee  .... en roep. Die nag van my allergrootste nood, roep ek. Ek trek die denkbeeldige valskerm oop: “O Here!, o Here.....!

Dit is 'n buitengewone ervaring as jou valskerm oopklap – as jou geloof oopklap – as jou geloof uit die plooie ontvou waarin dit jare lank toegevou was. Ek word gedra........

My vrou en my kinders staan langs my bed en merk dat iets aan my verander het. Hulle kyk vreemd na my, maar tog sien ek nie meer die bekommernis in hul oë nie. Ek probeer hulle vertel van my valskerm...... Hulle knik net hulle koppe meewarig.... Hulle verstaan nie....

Maar in die hemel is daar blydskap onder die engele oor die één sondaar wat hom bekeer het....

Uit: Gesprekken met God deur ds Gabe van Duinen (verwerk).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css