Die Weg

 

Daar is krag in stilte

(Lees saam met die vorige boodskap)

Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. - Psalm 46:11.

Dit is eers wanneer ons werklik stil word in die teenwoordigheid van God dat ons Hom opreg kan leer ken. 'n Mens kan die teks hierbo ook soos volg interpreteer: “Wees stil en weet dat Ek God is”. Die profeet Habakuk sê: “Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees!”  (Hab. 2 : 20).

Alhoewel baie mense dit nie wil besef nie, het ons almal 'n behoefte daaraan om stil te wees. Want dit is in hierdie stil wees dat jou gees in aanraking kom met God. Dit is soos 'n blom wat op 'n windstil nag die doudruppels inneem. En net soos daar geen dou in 'n stormagtige nag val nie, so bereik die dou van God se genade ook nie 'n siel wat nie tot rus kan kom nie.

Die mens kan nie met 'n sneltrein deur die lewe probeer jaag nie. Jy moet tyd maak om 'n bietjie stil te hou, en 'n plek te vind waar jy rustig en stil in gemeenskap met God kan deurbring. Om stil te word beteken ook om op die Here te wag vir krag van Hom af: “maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.” (Jes 40:31; 53-vertaling). Neem ons genoeg tyd om saam met Hom deur te bring sodat Hy ons na gees en liggaam kan versterk? Hoe meer ons in gemeenskap met Hom verkeer, hoe meer dra Hy daartoe by om aan ons die broodnodige rus vir die lewe te verskaf: “... na waters waar rus is, lei Hy my heen.” (Ps 23:2). 

Waar soek ons ons krag? Die Here sê deur die profeet Jeremia: “My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie.” (Jer 2:13). Daarom raak ons so maklik uitgeput na liggaam en gees, want ons soek versterking in ons eie maaksels. Maar wanneer ons in gemeenskap met die Here lewe verander alles: “In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my. Hy gee my nuwe lewenskrag; Hy lei my op die regte paaie ter wille van sy Naam” (Ps 23:2-3; direkte vertaling). 

Wanneer ons stil word in teenwoordigheid van God, wanneer ons ons rus by Hom vind, werk Hy in ons. Dan kom die warboel van ons gedagtes tot rus en wys Hy ons die weg om Sy wil te doen, en gee Hy aan ons ook die geestelike en liggaamlike krag daarvoor.

Voorwaar my siel is in my stil, weer een met God se heil'ge wil. Net soos 'n kind, tevrede by sy moeder, is my siel in my.” (Ps 131:2 beryming).

- dw-

(Met erkenning aan Prof HDA du Toit: Na die eis van elke dag)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css