Die Weg

 

Die grootste skat vir ons lewe

"Maak oop my oë dat ek die wonders uit u wet kan raaksien" – Psalm 119:18 (direkte vertaling).

Wie in gemeenskap met God lewe, vind in sy Wet 'n skatkis vol waardevolle riglyne en aansporings vir die alledaagse lewe. Psalm 119 jubel in suiwer tone oor hierdie ongelooflike rykdom van die goedheid van God. Maar hierdie ontsaglike geestelike rykdom bly vir baie mense verborge omdat hulle nie daarna soek en dit so hul eiendom kan maak nie.

Daar is vandag baie Christene wat nie veel aandag skenk aan die Wet van God nie. Hulle plaas baie nadruk op hulle “evangeliese vryheid” omdat hulle uit genade leef en hulle dink dat hulle “God se wette” nie hoef te onderhou nie. Maar wat nooit by hulle opkom nie, is dat “God se wette” suiwer genade is. Hierdie wette is volmaakte en betroubare raadgewers; dit wil ons lewens beskerm en vir ons die weg baan om in volmaakte eenheid met God te kan lewe. Daarom is die wet van God nie daar om ons in te perk nie, maar om vir ons 'n ruimte te skep waarbinne ons so vry kan wees soos wat ons nêrens anders kan wees nie. En natuurlik wil dit ons bewaar teen verkeerde dade en die gevolge daarvan.

Martin Luther het gesê: “Sonder die Woord van God kan die siel nie gehelp word nie. Maar as jy die Woord het, het jy niks anders hiervoor nodig nie”. Dat mense God se onderwysinge opsy kan skuif is onbegryplik, en iets waaroor jy jou net kan verbaas.

"Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige." - Psalm 19:8 (53-vertaling).

Wat God beveel, is reg,
dit wys vir ons die weg,
dit bring geregtigheid.
Soos goud, so kosbaar, goed,
soos heuning, smaaklik, soet
is hierdie heerlikheid.
Ons word deur U beloon
as ons U eer betoon
en luister na u eise.
U wet, Heer, spreek ons aan,
ons word daardeur vermaan,
dit rig ons lewenswyse.

 (Psalm 19:4 beryming van TT Cloete)

P Martin Bulmann in Neukirchener Kalender 2016 (bygewerk)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css