Die Weg

 

As ons verward raak

Wie van julle dien die Here en luister na sy dienaar? Wie in die donker loop en geen lig sien nie, moet op die Here vertrou, moet op sy God steun. - Jesaja 50:10.

Ons leef meer in die donkerte as in die lig. Die wêreld is immers 'n donker plek. Selfs mense wat belangrike leiersposisies beklee, beplan dikwels dinge in die donker. Dit is nie vreemd om verward te raak in die wêreld nie.

Die Here sê egter vir ons wat ons in die donker moet doen. Jy moet nie jou hoop stel op die dinge van die duisternis nie. Jy moet nie luister na selfs die prinse van die wêreld met hulle duister planne nie. Moenie jou hoop vestig op die slim praatjies van mense nie. Hulle is maar net soos jy, swak en sondig.

Nee, draai liewer na die lig toe. Soek die Here op so dikwels as wat dit nodig is. Moenie in jou duisternis vergeet om te bid nie. Raadpleeg die Here wat jou baie liefhet omdat jy die produk van sy hande is. Hy wil dat jy uit die donkerte moet uitbeweeg na die lig toe. Jy moet luister na sy Gees en doen wat Hy sê en sy helder lig sal vir jou deurbreek. Vertrou op die Here vir antwoorde in jou worsteling. Hy sal jou sekerlik antwoord en jou lewe uitlig uit die diep vallei van depressie en onsekerheid, en jou weer bring op die hoogtes waar jy nuut kan dink oor môre en oormôre.

Gebed: Maak my nuut, Here, Laat die donkerte wyk, sodat die helder lig van U Gees in my lewe kan deurbreek. Amen.

Uit: By die ruspunt van my hart, deur Eric Stander (Met die vriendelike toestemming van Aktuapers)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css