Die Weg

 

Kies jy dood, of kies jy lewe?

“Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan. Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.” - Efesiërs 6:13-17.

Menslike wapens is hoofsaaklik op vernietiging ingestel. Ons kry vandag die mees vernietigende wapens van alle tye. Eenvoudig alles kan deur hierdie wapens vernietig word. Ons dink maar net aan die vernietigende mag van die moderne kernbomme. Manne, vroue, kinders, grysaards, diere, plante en alle menslike skeppinge kan deur hierdie geweldige krag weggevee en verwoes word. Maar 'n mens hoef nie so ver te gaan kyk nie. Kyk maar net rondom jou dan sien jy die dood en vernietiging wat mense met hulle wapens daagliks aanrig.

Daar is egter geen enkele wapen wat die mens is in staat stel om maar net één dooie weer lewendig te maak nie. Geen enkele wapen kan die mens bevry van sy angs, vrees en spanning nie. Die teendeel is waar, naamlik dat die mens deur sy eie wapens in angs en vrees gevange gehou word. Daar is geen enkele wapen wat maar net één mensehart kan bevry van ongeloof en bygeloof nie. Geen enkele menslike wapen kan weer regmaak waar mense se lewens verwoes is nie. Menslike wapens bring net angs en onheil voort.

Die wonder van die wapens wat God ons gee in ons aardse stryd, is dat dit die enigste wapens is wat nie op dood en verwoesting ingestel is nie, maar dat dit wapens is wat lewendig maak, wat wonde heel, wat gevangenes bevry en die sondaar salig maak. Dit bevry die menselewe van die dodelike en ondraaglike laste van die sonde. Dit bevry hom van die boeie en magte wat hom bind. Dit verlos menselewens uit die slawerny van die sonde; dit droog trane en rig die wat terneergedruk is weer op; dit vul menseharte met 'n soete vrede en rus, vry van doodsangs en spanning.

Natuurlik leef ons in 'n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie. Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig.” (2 Kor 10:3-4).

Die wapens wat God ons gee maak ons gehoorsaam aan Christus deur wie ons ons enigste vryheid kan vind.

Uit: Lig en Lewe (1972) (Effens aangepas).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css