Die Weg

 

Jou strewe bepaal jou lewe

“Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.” - Kolossense 3:1-4.

Dít waarna jy strewe bepaal jou hele lewe. Dáárop rig jy jou gedagtes en dit is die passie van jou hart.

Ons vertel graag dat ons Christene is. Ons twyfel nie in ons harte dat ons Jesus wil navolg nie. Maar is dit werklik so? Strewe ons na die dinge daarbo en is ons lewe verrykend vir die mense rondom ons?

Dit behoort so te wees as ons kinders van die Here is. Dan lyk ons en doen ons nie soos die wêreld nie. Ons beweeg uit die duisternis van die wêreld na die lig van Christus. Dan doen ons net nie mee aan die dinge van die wêreld nie. Die Heilige Gees suiwer ons daarvan.

Christus verander ons omdat ons na aan Hom leef. Sy heerlikheid word deel van ons lewe. Ons soek sy vrede vir onsself en vir almal wat saam met ons op die lewenspad is. In Hom word ons oorwinnaars.

Omdat ons na hierdie dinge streef, kan ons nie meer soos die wêreld lyk nie. Ons verbondenheid aan Jesus haal ons daaruit. Ons geloof in Jesus Christus maak ons los van hierdie wêreld en maak die lewe vir ons ligter. Dit bring vrede in die lewe as ons ons bekommernisse en ons probleme aan die voete van Jesus kan neerlê. Hy maak van ons oorwinnaars in die wêreld, ook oor onsself en ons eie probleme.

Gebed: Here, elke probleem van my lewe kan ek aan u voete neerlê. U neem elke vrees in my lewe en gee vir my nuwe waagmoed. U maak van my oorwinnaar saam met U.

Uit: By die ruspunt van my hart, deur Eric Stander (Met die vriendelike toestemming van Aktuapers)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css