Die Weg

 

Waaruit bestaan my lewe?

“En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug [gierigheid], want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.”  - Lukas 12:15 (53-vertaling).

Die stryd om die aardse dinge, met verwaarlosing van die geestelike dinge, bring ons voor die groot vraag: waaruit bestaan my lewe? Gaan dit om die najaag van aardse goedere wat ek wil besit, of die grootste erfenis wat ek alreeds besit in my diens aan God? Dit is deel van ons natuurlike en vleeslike hart dat ons aardse goedere: besittings, kos, klere, weelde, genietinge en vertoon najaag. Dit word begeer. Hierdie begeerte hou nooit op nie, want hierdie hart wil steeds meer en meer hê. Dit word 'n dwang, 'n sug om meer en meer te besit. Dit is soos iemand wat sout seewater drink vir sy dors en daardeur al meer dors word.

Daarom dat Christus ons teen hierdie gevaar waarsku: pas op vir die gierigheid. Vandag moet ons des te meer daarvoor oppas, omdat die hele advertensie wêreld op die mees verfynde wyse by ons behoeftes en steeds groter behoeftes kweek en dan self die middele aanbeveel om dit te bevredig. Ons mense word deur die media opgejaag om steeds meer, nuwer, groter en duurder dinge te besit.

Waarom waarsku Jesus met soveel erns teen die gevaar van gierigheid? Dit is omdat dit 'n fondament skep, en 'n valse een daarby, waarop ons ons lewens bou. Ten eerste is dit so maklik dat ons nie meer die besittings besit nie, maar dat die besittings ons besit. Ten tweede verblind dit ons oë vir die ewige en blywende erfenis van God. Ten derde kan ons aardse besittings enige oomblik van ons weggeneem word en wie dan sy vertroue daarop gestel het, gaan daarmee ten gronde. En bo alles gaan gierigheid gewoonlik ten koste van ons medemens, waarmee ons die gebod oortree: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mat 22:39). Gierigheid bring nie 'n ware lewe nie, maar 'n skynlewe sonder vaste fondament en inhoud.

Gebed: Dankie Here, dat U ons oë open vir die gevaar van gierigheid. Amen.

Uit: Lig en Lewe (1972) (Effens aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css