Die Weg

 

Alles uit genade

Op Vrydag 3 Maart 2017 het ons afskeid geneem van 'n vriend wat aan die einde van sy aardse lewenspad gekom het. Ná die troosdiens in die kerk bly die volgende verse uit “Gebed” van Koos du Plessis by 'n mens steek. Dit sê in baie kort woorde alles oor die mens se bestaan:

Wat ek is is net genade,
wat ek het is net geleen,
eint'lik smag ek na U waters van rus,
lei my Heer vanaand daarheen.

Dit is 'n belydenis wat aansluit by die woorde van Psalm 24 vers 1: “Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here.” Paulus staaf dit in Handelinge 17: 27-28 as hy sê: “God het [ons] gemaak om Hom te soek, al sou [ons] ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.

Elke afdraai paadjie ken ek,
elke keer het ek gedwaal,
elke keer het U my iewers kom haal,
maak dit Heer U laaste maal.

In die woorde van Jesaja: “Soos 'n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors....” (Jesaja 40:11).

En aan die einde van ons aardse lewenspad kan ons weet: "Die Here God kom, Hy is die Magtige, Hy regeer. Hy bring die volk saam wat Hy Syne gemaak het, dié wat aan Hom behoort, is by Hom" (Jesaja 40:10). Dít is die grootste genade.

-dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css