Die Weg

 

Van wanhoop na geloofsversekering

“Alles wat U doen, is heilig, o God. Waar is 'n god so groot soos God? U is die God wat wonderdade doen; U het u mag onder die volke geopenbaar.“ - Psalm 77:14-15 (83-vertaling).

Hierdie psalm bestaan uit twee afdelings. Die eerste helfte spreek van wanhoop en diepe vertwyfeling. Het God vergeet om genadig te wees? Of het Hy in toorn sy barmhartighede toegesluit?

Daar kom meermale sulke vrae op in die hart van die gelowige - wanneer duisternis van beproewing oor die siel toesak en dit lyk asof God sy kind totaal verlaat het. Het Jesus self dit nie in die uiterste oomblikke van lyding aan die kruis ondervind nie? Daar sal sulke oomblikke vroeër of later in jou en my lewe kom, soos dit gekom het in die lewe van die psalmdigter. Maar tog, ten spyte daarvan, sluit hy sy versugting in gans 'n ander toon af.

Die keerpunt kom wanneer hy in sy vertwyfeling die wonderdade van God in herinnering roep, en aan die werke van God dink soos Hy Hom deur die eeue heen geopenbaar het. Dan verdwyn die gevoel van vertwyfeling en weet hy dat God nooit kan of sal verander nie.

Ons moet dit onthou en ook dink aan wat Jakobus gesê het: dat beproewing van die geloof volharding bewerk om ons sonder gebrek voor God te stel (Jak 1:4). Dan kan ons in geloofsversekering uitroep: Waar is 'n god so groot soos God?

Gebed: Ja waarlik, o Here, wie is soos U in die hemele? Buiten U het ons ook niks op aarde nie! Amen.

Uit: Lig en lewe, onder redaksie van ds Norval Geldenhuys (effens aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css