Die Weg

 

Geloof, hoop en liefde

Ds John Murray du Toit was in die dertiger en veertiger jare van die vorige eeu predikant op Rustenburg en Charl Cilliers. Sy gemeentes het bestaan uit uitgestrekte boeregemeenskappe. Die afstande was ver en die vervoer beslis nie soos vandag nie. Daarom het hy gedurende sy huisbesoekreise by die gemeentelede oorgeslaap. Baie van sy geloofswedervaringe gedurende hierdie omreisinge van hom het hy in 'n bundel saamgevat met die gepaste naam: “Terwyl die ketel kook”. Wie ken of onthou nog die ketel wat vroegoggend op die houtstoof staan en kook?

Ek plaas vandag nog een van hierdie wedervaringe soos hy dit in sy bundel vertel. Geskryf in 1946. (Aanhalings kom uit die 1933 vertaling van die Bybel)

----------------------------------------

Ek slaap verlede week in die ruim vertrek van 'n boerehuis. Hierdie drie woorde pryk as muurteks: “Geloof, Hoop, Liefde.” Die nag was warm, en my brein was gedurende die dag te besig gewees vir my om somaar dadelik aan slaap te val. Ek lê en dink: Hoeveel verskillende vertolkings word aan hierdie woorde gegee:

Geloof: Wat glo ek, wat is vir my 'n beginsel, waarvan is ek seker?
Hoop: Wat verwag ek, wat verlang ek?
Liefde: Wie bemin ek, en watter vorm neem my liefde aan?

Dergelike vrae vlieg deur my gedagtes.

Ek staan op en steek die kers aan. Ek neem my Bybel en blaai na bladsy 225 in die Nuwe Testament, 1 Thessalonicense 1 vers 3. Daar lees ek: “... die werk van julle geloof, en die arbeid van julle liefde, en die lydsaamheid van julle hoop.” Onwillekeurig dink ek aan die woorde van Christus: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is." (Matt 7:21)

As Christene moet ons nie alleen die pragtige woorde “Geloof, Hoop en Liefde” as leuse neem nie, maar wel deeglik onsself afvra wat daardie leuse beteken.

Die werk van ons geloof – wat het my geloof in my bewerk? En wat het ek al gewerk waartoe die geloof my gedryf het? Het my geloof my al in staat gestel om meer te vermag as wat ek in eie krag sou kon doen?

Die arbeid van ons liefde - wat het ek gedoen, aangespoor deur die liefde vir God en vir my medemens? Watter liefdesdade word vandag deur my gedoen, gebore uit die liefde van God?

Die lydsaamheid van ons hoop - is ek waarlik meer geduldig, meer verdraagsaam met daardie lastige buurman of moedswillige werknemer, omdat ek my hoop op God gevestig het?

Is daar in my lewe 'n gevaarlike verskil tussen “geloof, hoop en liefde” soos ek dit verstaan en die “werk van die geloof, die arbeid van die liefde en die lydsaamheid van die hoop” soos God dit van my verlang en van my verwag? Miskien weet ek. Miskien weet ek nie - dan kan God my dit vertel.

Ds John Murray du Toit: Terwyl die ketel kook. (Charl Cilliers, 1946) (Effens geredigeer ter wille van leesbaarheid)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css