Die Weg

 

Watter oes?

Ds John Murray du Toit was in die dertiger en veertiger jare van die vorige eeu predikant op Rustenburg en Charl Cilliers. Sy gemeentes het bestaan uit uitgestrekte boeregemeenskappe. Die afstande was ver en die vervoer beslis nie soos vandag nie. Daarom het hy gedurende sy huisbesoekreise by die gemeentelede oorgeslaap. Baie van sy geloofswedervaringe gedurende hierdie omreisinge van hom het hy in 'n bundel saamgevat met die gepaste naam: “Terwyl die ketel kook”. Wie ken of onthou nog die ketel wat vroegoggend op die houtstoof staan en kook?

Ek plaas vandag een van hierdie wedervaringe soos hy dit in sy bundel vertel. Geskryf in 1946. (Aanhalings kom uit die 1933 vertaling van die Bybel)

------------------------

Onlangs, op huisbesoek, stap ek saam met 'n hoëveldse boer na sy pragtig geploegde landerye wat soos 'n oopgespreide rooi kombers oor die bulte lê. “En Oom, wat sal oor 'n paar maande hierop hierdie landerye staan?” vra ek. Die oubaas steek sy duime so onder sy kruisbande in, en sê: “Mielies, Dominee, mielies!”
“Maar hoe weet Oom dat dit nie suikerriet sal wees nie?”
“Want ek het mos mielies gesaai!” antwoord die oubaas.

“Presies,” sê ek, “en dit is juis my teks vir hierdie naweek se buitediens, Oom. Paulus sou wat gegee het as daardie nuwe gemeentetjie wat hy in Galasië gestig het hierdie les wou leer. In daardie brief wat hy vir hulle geskrywe het, met sy eie hand, soos hy ook sê, lê hy op hierdie les nadruk: 'Moenie dwaal nie: God laat Hom nie bespot nie: want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.'”

“Waar lees mens dit, Dominee?” vra die oubaas.
“Galate 6 vers 7” antwoord ek - en ek merk die oubaas maak 'n aantekening met 'n stompie potlood agter op sy vuurhoutjiedosie.

Ons het verder gestap. Die geselskap het oor ander dinge gegaan. Maar daardie mielieland kom weer in die oubaas se gedagte. “Dominee”, sê hy toe ons tuis kom en op die stoep sit en koffie drink, “ek sou darem baie dom gewees het om mielies te saai as ek 'n suikerriet-oes verlang het, nie waar nie?”
“Sekerlik”, sê ek. “En tog, Dominee, hoe baie keer doen ons dit in die lewe. Ons saai een ding en verwag om 'n ander te maai. Ons saai haat, maar ons verlang 'n oes van liefde. Ons saai kortgebondenheid, tog verlang ons 'n oes van verdraagsaamheid. Ons saai selfsug, en dan wil ons onderlinge mededeelsaamheid oes.”
“Ja Oom, die mens is darem baie dom. Hy saai 'n vleeslike, maar hy sien darem uit na die dag dat sy oes 'n geestelike sal wees. Sal ons ooit die wêreld regkry, Oom?”

Op daardie vraag sit die oubaas dieppeinsend agteroor, en sê toe met stille oortuiging: “Nooit nie, Dominee. Nie ons nie. Maar as ons eerlik genoeg en verstandig genoeg is om te besluit wat ons wil oes, en dan dieselfde te saai, sal ons die wêreld 'n baie beter plek maak, met minder onkruid en vuilgoed. Dominee, van vandag af wil ek in my geestelike lewe met dieselfde verstand boer as op my plaas. Ek wil net saai wat ek graag wil oes.”

Die keer was dit ek wat met 'n potlood aantekeninge gemaak het, want die oubaas se woorde was vir my die antwoord op Paulus se brief aan die Galate - en aan ons!

Ds John Murray du Toit: Terwyl die ketel kook. (Charl Cilliers, 1946)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css