Die Weg

 

Van geloofsoorwinning tot besembosdepressie

Hy self het egter 'n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder 'n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, HERE! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.” - 1 Konings 19:4.

Net nog 'n paar dae gelede was Elia ooggetuie van die groot wonder wat die HERE daar op die berg Karmel laat plaasvind het. En hyself was die middelpunt van hierdie wonder. Hy was immers die instrument in die hand van God om God se oordeel oor die profete van Baäl te voltrek! En as die HERE hom daar op Karmel so bygestaan het, sou 'n mens verwag dat Elia vreesloos deur die lewe sou gaan omdat hy geweet het dat die HERE altyd by hom sou wees om hom te beskerm, op watter manier ook al.

Maar Elia was ook net 'n mens. En 'n mens het nie veel nodig om geestelik uitgeput en mismoedig te raak nie. Dit neem net een vertoornde vrou, Isébel, om vir Elia te dryf van die wonderbaarlike geloofservaring by Karmel tot die depressiewe besembos in die woestyn. Dit is dáár onder die besembos in die woestyn dat hierdie woorde van uiterste moedeloosheid uit die mond van die groot Godsman kom: “Nou is dit genoeg, HERE! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.” Elia was 'n man van formaat waarvan die engel gesê het toe hy die geboorte van Johannes die Doper aangekondig het: “En hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia.” (Lukas 1:17). En tog ....

Wat 'n troostelose gebed is dit wat Elia hier bid. Dit wil voorkom asof daar geen enkele ligstraaltjie is om die donkerheid in die siel van die profeet te verlig nie. En hoeveel kinders van God het nie al in hul moedeloosheid en kleingelowigheid so gebid nie? Maar kyk hoe hanteer God sy moedelose kind. Geen woord van bestraffing of verwyt nie.

God ken elke mens en Hy het geweet wat Elia nodig gehad het: rus. Die opwinding en die senuspanning van die belewenisse op die berg Karmel was te veel vir vlees en bloed. En terwyl Elia slaap hou 'n engel oor hom die wag; as hy wakker word is daar brood en water wat hom só versterk dat hy veertig dae en nagte kon loop tot by die berg Horeb. Daar by Horeb ontvang hy dan ook sy laaste groot opdragte van die HERE.

Hoeveel keer in die lewe verval ons nie self in 'n staat van moedeloosheid en depressie nie? Net soos by Elia neem die opwindinge en sorge van die lewe sy tol van ons. Dan, wanneer dit lyk of alles om 'n mens ineenstort, kom daar weer nuwe hoop, want ons God vergeet ons nooit en sal ons nie in die steek laat nie! Ten spyte van ons moedeloosheid en kleingelowigheid kom Hy ons altyd weer tot hulp. As ons net bereid is om ons lewens in Sy hande te plaas.

In hierdie stilte het U self tot my gespreek.
Geen harde woorde of woorde van verwyt.
U het alleen met liefde my verset gebreek,
met troostend'sagte woorde my opstandigheid.

Nou gee ek U die roer o God en Vader,
ek het te lank my lewensskip gestuur.
Nadat ek dae en nagte in donkerte het getuur,
sien 'k in die verte nou U haweligte nader.

En in my hart sal ek U troostend' woord bewaar:
"Die eén dag toe jy al jou liefde gee vir My,
is in My Vaderoë meer as duisend jaar
en duisend jaar van sonde 's net een dag vir My". 
- Gedig deur Nel Bensop (Vertaal deur Winy du Preez)

- dw -

(Met erkenning aan ds F.S.Malan)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css